fbpx

Die NGV sal gratis wees – dit word met belasting betaal

Deur on Jan 31, 2020

Nuuskommentaar: 31 Januarie

“Die NGV gaan jou nie geld kos nie – dit sal befonds word uit belasting uit” lui die Twitter-plasing.

Sê wat jy wil, maar iemand by die Departement van Gesondheid verstaan bemarking. Toegegee – dis seker maklik om gratis goed te verkoop.

Baie Twitteraars het natuurlik onmiddellik uitgewys dat “belasting” nie die een of ander abstrakte, onuitputbare wonderbron van kapitaal is nie, maar dat dit tog deur íémand betaal sal word.

Hierdie natuurlik heeltemal korrek. Ongelukkig het dit die Departement se punt gemis – selfs al was dit een wat per abuis gemaak is. In hierdie – soos met baie dinge wat die regering doen – is jý, meneer of mevrou belastingbetaler, nie juis die teikendemografie nie.

‘n Eenvoudige sommetjie illustreer die punt baie duidelik.

Suid-Afrika is ‘n land van sowat 59 miljoen mense en 3 miljoen belastingbetalers. Hoewel hierdie syfers klaar mens effens benoud laat, is dit natuurlik nie die hele storie nie.

Die oorgrote meerderheid van hierdie belasting word deur net meer as 1.1 miljoen belastingbetalers betaal. Hierby ingesluit is 200 000 staatsamptenare in die staat se top-salarisgraderings – wat natuurlik uit hierdie selfde poel befonds moet word.

Sonder hulle verskraal hierdie syfer tot net sowat 950 000.

Hierdie is geensins ‘n perfekte som nie, maar dit illustreer die punt baie duidelik: Daar is ‘n maksimum van 950 000 mense in Suid-Afrika wat, in enige betekenisvolle sin, netto-belastingbetalers is.

As jy ‘n politikus was, sou jy vreeslik besorgd wees oor hulle stemme? Onthou, hierdie is maar ‘n skamele 1.6% van die bevolking. As ons hulle sou beskou as ‘n persentasie van die stemgeregtigdes, is hulle maar 2.7%.

Wat staan ‘n minister of president dan te doen as dit tyd is om beleid te formuleer? Die truuk is om soveel as moontlik van die 1.6% se bates te gebruik om die 98,4% se behoeftes te diens.

In die langtermyn is dit, natuurlik, moontlik dat die 1.6% sal verarm of emigreer – maar dit is nie die onmiddellike bekommernis nie. So ook is dit nie nodig om te bekommer oor die feit dat meer van die 98% nie opskuif na die ryk 1.6% nie.

Trouens, aangesien daar nou so definitiewe onderskeid ontstaan het tussen belastingbetalers en belastingafhanklikes se belange, sou dit politieke selfmoord wees om jou eintlik veel aan eersgenoemde te steur.

Dit werk alles heel goed uit, aangesien ongelukkige mense net soveel belasting moet betaal as gelukkiges – stemme word gewerf, maar belastings word gehef.

Die ironie is dat dit, natuurlik, mettertyd net nadelig vir almal is – almal behalwe die politici wat hierdie korttermyn voordele omskep het in langtermyn politieke kapitaal.

Belasting sonder verteenwoordiging was genoeg om, in die geval van die eertydse Britse kolonies van Amerika, ‘n rewolusie te ontketen.

Wat sou die praktiese effek wees as hierdie 1.6% oornag hul stemreg sou verloor? Vir die oorgrote meerderheid van die Suid-Afrikaanse parlement sou dit geen effek op hulle agendas hê nie.

In Suid-Afrika is jy meer as welkom om deel te neem aan die demokratiese proses – moet net verwag om deel te neem aan die demokratiese besluit nie. Demokrasie beteken immers in die Grieks “die mag van die mense” – maar wie het ooit gesê jy is “die mense”?

Dit is dus tyd vir ‘n rewolusie – maar nie ‘n geweldadige een nie. Die Grondwet was veronderstel om ‘n verskansing te wees teen meerderheidsoorheersing, maar dit sou ‘n fout wees om nie nuwe burgerlike instellings te bly bou nie.


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Current track

Title

Artist