fbpx

Die konserwatiewe denker

Deur on Jan 21, 2020

Nuuskommentaar: 20 Januarie

In die lente van 1985, is ‘n 41-jarige filosofie professor uit Engeland in die stad Brno in die destyds kommunistiese Tsjeggo-Slowakye in hegtenis geneem en aangehou.

Sy beweerde misdaad was dat hy akademiese filosofiese literatuur uit die Weste na andersdenkende akademici in Oosbloklande gesmokkel en netwerke gevestig het van akademici wat krities gestaan het teenoor die kommunistiese bewind met hulle eweknieë in die Weste. Hy het reeds in 1980 daarmee begin en daarmee voortgegaan tot met die val van kommunisme in Oos-Europa in 1989.

Kort na sy inhegtenisname, is hy uit Tsjeggo-Slowakye geskop en slegs toegelaat om te voet, met ‘n kleinerige handtas, die grens vanaf Tsjeggo-Slowakye na Oostenryk oor te steek.

Op die 17de Junie van daardie jaar het die Tsjeggiese kommunistiese regering hom op die sogenaamde “Indeks van Ongewenste Persone” geplaas en daarna is hy, tot met die val van kommunisme in Oos-Europa, gereeld tydens sy besoeke aan Pole en Hongarye dopgehou en agtervolg. 

Sy naam was Roger Scruton, ‘n alumnus van Cambridge Universiteit. Scruton word beskou as een van die grootste konserwatiewe filosowe van ons tyd.

Sy pa was ‘n ingewikkelde karakter en sy ma ‘n verfynde vrou wat, soos hy dit gestel het, die idee van waardige optrede en maatskaplike uitnemendheid gekoester het.

Ten spyte van ‘n sekulêre opvoeding het hy hom aangetrokke gevoel tot die Christelike geloof en was hy ‘n meelewende lidmaat van die Anglikaanse Kerk.

Tydens ‘n besoek aan sy verloofde van destyds, Danielle Laffitte in Parys, Frankryk het die studente-opstande van 1968 in Parys uitgebreek. Scruton het later geskryf dat terwyl hy aanskou het hoe studente motors omkeer, keistene uitbreek en vensters stukkend slaan, daar in hom ‘n politieke woede opgewel het.

Hy het die behoefte ervaar om mooi dinge te bewaar eerder as te vernietig en dit was van daardie dag in 1968 af wat hy konserwatief geraak het.

Hy sou sedertdien dit sy lewenstaak maak om te help formuleer aan idees, ‘n idioom en ‘n idee-raamwerk wat die basis kon vorm van konserwatiewe politieke denke in Engeland en elders.

As ‘n persoon wat deur ‘n totalitêre bewind in die Oosblok vervolg is en tot vyand verklaar is, was Scruton intens bewus van die fanatiese beheer wat maghebbers oor die denke van hulle onderdane wil uitoefen. Hy het onlangs in ‘n artikel in The Telegraph beskryf hoe heersers in die Sowjet-blok andersdenkende akademici eers sou kasty oor hulle afwykende denke, hulle dan sou ten toon stel vir ‘n openbare skuldbelydenis voordat hulle voor ‘n vuurpeleton tereggestel word.

Sy pleidooi was dat Westerse demokrasieë nie in dieselfde dwangbuis beland waarin ongewilde standpunte of oortuigings tot denke-misdaad verklaar word nie.

Scruton het geweet waarvan hy praat.

In April verlede jaar het ‘n Britse publikasie, the New Statesman,  hom genooi vir ‘n onderhoud.

Die adjunk-redakteur van die publikasie George Eaton, het grepe uit die onderhoud uit verband geruk en gepubliseer sodat hy Scruton as rassis kon brandmerk en uiteindelik sy afdanking as voorsitter van ‘n staatsadviesliggaam kon bewerk.

Eaton het die afdanking op Instagram gevier met ‘n bottel sjampanje, maar moes later verskoning vra en Scruton is heraangestel. Eaton se redakteur Peter Wilby het later erken dat Eaton die onderhoud soos ‘n aktivis eerder as ‘n joernalis benader het.

Roger Scruton is verlede Sondag oorlede aan kanker waarmee hy kort na hierdie gebeure gediagnoseer is. So het hy ‘n slagoffer geraak van die denke-polisie van die nuwe self-verafskuwende Westerse-wêreld.


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Current track

Title

Artist