Hoofstuk 13 – 18 Augustus 2023
Die program Vasbyt waarmee Paul van Jaarsveld begin het om fondse in te samel en die musiekfeeste wat Chris Bester en sy komitee van Radio Magaliesberg buite Brits gereël het, het spoedig ‘n instelling geraak.
Vasbyt was ‘n groot makietie oor die lug op ‘n Saterdag. Luisteraars kon tydens ‘n marathon uitsending vanaf 7 uur die oggend tot laataand, inbel om beloftes van finansiële skenkings te maak. Goedere is afgelewer by die radio en oor die lug opgeveil en getroue luisteraars het een na die ander geskakel om beloftes te maak van ‘n donasie van enige iets tussen R10,00 en duisende rande.
So het die stasie se getroue luisteraars getrou gewerk om die stasie as ‘n ware gemeenskapsstasie aan die gang te hou.
In sy Jaarverslag van 1996 het ds. Mossie van den Berg die jaar 1995 toe die stasie na ’n jaar se verpligte stilswye weer aan die gang gegaan het met slegs ’n skenkingsbelofte van R275 000, so beskrywe:
”Met dit in ons hande en met die hoop op R600 000 inkomste per maand, het ons die allernodigste toerusting gaan aankoop, huur- en ander lopende kostes aangegaan en personeel in diens geneem. Ons was in geen stadium gedurende die afgelope 16 maande bankrotter as toe nie…
In Januarie 1996 was die gevreesde bankrotskap reeds grootliks ’n oorwonne bankrotskap.
Daardie opgehoopte tekort is met Operasie Vasbyt uitgewis ….en die tans afgelope twee maande, Mei en Junie 1996, dit wil sê: presies ’n jaar na die begin van ons ‘tweede lewe’, was die inkomste ook meer as ons maandelikse verpligtings.”
Dit was nie net te danke aan die toegewyde personeel nie maar ook die drif om steeds die tegniese en veral die kulturele en ontspannings-aspek van die stasie se uitsendings te verbeter. Hierdie taak het ds. Mossie so beskrywe :
”Ons móét vir mense preek, ja; dit gaan immers om die plant en volgehoue versorging van gedagtes en oortuigings by mense. Maar dit moet so gedoen word dat dit nie weerstand wek nie, maar boei en meevoer. Ons moet die hartsnare aangeraak kry, want daarsonder kry ons nie die koppe gedraai nie. Subtiele menings-vorming moet die wagwoord bly.”
Afsluitend het hy soos volg gestel:
”Ek mag ook nie nalaat om dankie te sê vir toewyding en ondersteuning van elke personeellid van die stasie nie. Hierdie sowat dertig manne en vroue, saam met ’n vyftiental program-medewerkers, ’n halfdosyn advertensie-verteenwoordigers en so ’n rapsie oor die honderd adverteerders het feitlik met hulle kaal hande ’n taak verrig wat meer as tien maal soveel mense met meer as honderd maal soveel fasiliteite en toerusting geensins doeltreffender kon verrig het nie. En sonder die oorweldigende ondersteuning, geesdrif en meelewing van al ons duisende luisteraars, sou die stasie nie die heel eerste maand kon oorleef het nie.”
Dit bly merkwaardig dat die stasie daarin geslaag het om, ondanks die wisseling van personeel, ondanks die feit dat almal hulle moes inwerk in hierdie onderneming, wat vir baie ook ’n soort avontuur was, tog op al die terreine waarop die stasie moes funksioneer, ’n dawerende sukses was. Toewyding, aanpasbaarheid, opoffering en vindingrykheid was by die stasie eerder vanselfsprekend as uitsonderlik.
Die opvallende is ook dat die stasie nooit, wat finansies betref, regtig vasgeval het nie en hoewel daar op die bestuurs- en organisatoriese vlak soms skerp verskil is, is daar algaande gebou en geskaaf en verander totdat wat sowel personeel as organisasie betref, die haakplekke teen die einde van 1996 uitgestryk was en hulle ’n vaste span was.