fbpx

Die EFF se groeiende bestaanskrisis.

Deur on Nov 8, 2019

Nuuskommentaar: 6 November

Op 2 November 2019 het Suid-Afrika vir die derde keer die William Web Ellis trofee verower, en as wêreldkampioene in rugby na vore getree.  Groot was die feesviering die wêreld oor, en dit het voorgekom asof almal vir ʼn oomblik vergeet het van die uitdagings wat ons land daagliks in die gesig staar om net vir ʼn oomblik saam te trek.  Alhoewel baie mense tog saamgetrek het, was daar natuurlik hulle wat nie net negatief oor die Springbokke se oorwinning was nie, maar sommer afgunstig. 

Voor in die koor van skoorsoekers was die EFF se woordvoerder, Mbuyiseni Ndlozi.  Meneer Ndlozi het ondermeer op sosiale media geplaas dat hy aan die kaptein, Siya Kolisi, gelukwensings stuur, maar dat die res van die span by Prins Harry hul gelukwensing moet gaan kry.  Die gewone Suid-Afrikaner op straat word natuurlik deur sulke opmerkings warm onder die kraag gemaak, maar as ʼn mens ʼn tree terug sou neem en sou verstaan dat meneer Ndlozi eintlik maar net probeer relevant bly in ʼn rigtinglose bootjie, maak sy kamma-afguns baie meer sin.

Teen die einde van 2017 kon die EFF homself op sy verlinkse beginsels skoei, en ʼn vaste identiteit daar rondom vestig.  Grond moet weggeneem word uit private besit, en die Reserwebank se mandaat moet verander word om linkse herverdeling te vergemaklik.  In hierdie stadium het die EFF ook as morele helde na vore gekom omdat hulle in opstand teen die korrupte President Jacob Zuma gekom het met hulle “Pay Back the Money” krete.  Hierdie drie sake was, onder andere, beginsels van die EFF, beginsels waarmee die regerende ANC nie saamgestem het nie.  As ʼn mens bykans twee jaar vorentoe sou spring, word dit duidelik dat die EFF se bestaanskrisis besig is om teen ʼn snelle tempo te verdiep.

Een van die eerste dinge wat President Ramaphosa begin doen het was om in terme van sy beleid verder links te skuif.  Uitsprake soos dat onteiening sonder vergoeding ondersoek moet word, en dat die mandaat van die Reserwebank hersien moet word, het die rooi mat as’t ware onder die EFF uitgeruk.  Alhoewel hierdie skuif na links verskeie Suid-Afrikaners goed die josie in gemaak het, en dikwels baie bang gemaak het, was dit in terme van politiek goeie skuiwe van die ANC af, omdat dit die politieke beweegruimte van die EFF drasties verminder het.  Die klein bietjie morele hoëgrond wat die EFF in die Zuma-era gehad het, is ook ʼn ding van die verlede gemaak deur die onthullings rondom VBS-bank, waarby verskeie EFF topbestuurslede geïmpliseer word, asook die ANC se uitskuif van President Zuma.

Met hierdie konteks in ag genome, besef die Suid-Afrikaner dat die EFF se radikale opmerkings oor transformasie en rasse-verteenwoordiging heel moontlik niks meer is nie as ʼn versmorende party se pogings om relevant te bly.  Ons sal heel moontlik nog erger polarisering in die volgende jare ervaar, namate hierdie party poog om ruimte aan die verlinkse kant oop te kap.

Tagged as

Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Lees verder

Current track

Title

Artist