Die DA vra dat munisipaliteit in Lichtenburg onder administrasie geplaas word

Deur on

10 Januarie 2025

Die DA in Noordwes doen ‘n dringende beroep op die regering van nasionale eenheid om in te gryp by die Ditsobotla-plaaslike munisipaliteit weens die ernstige tekort aan dienslewering.

Inwoners van Lichtenburg, waar Ditsobotla gesetel is, het vanoggend betoog weens hulle ontevredenheid met die munisipaliteit.

Die DA se woordvoerder oor samewerkende regering, menslike nedersettings en tradisionele sake in Noordwes, CJ Steyl sê die party het ‘n skrywe gerig aan onder meer die departemente van samewerkende regering, die minister van finansies, Enoch Godongwana en president Cyril Ramaphosa waarin hulle versoek word om die Ditsobotla-plaaslike munisipaliteit onder administrasie te plaas.

Steyl sê ondanks verskeie ingrypingsmaatreëls om dié munisipaliteit te red, het niks tot dusver vrugte afgewerp nie. Hy meen die ANC se wanbestuur van die munisipaliteit, asook korrupsie het tot die probleme gelei.

Volgens Steyl is die Ditsobotla-plaaslike munisipaliteit bankrot, met sy uitgawes wat sy bates oorskry. Hy sê kontrakteurs, wat dienste moet lewer, weier om die werk te doen omdat hulle nie betaal word nie. “Water- en kragtoevoer bestaan feitelik nie in groot dele van die dorp nie, en meen talle inwoners sit tot weke, selfs maande lank sonder dié basiese behoeftes.”

Steyl meen enige amptenaar wat nie oor die nodige ervaring, vaardighede of kwalifikasies besit om die situasie te red nie, sal gevra word om hul poste te verlaat. Hy sê enige amptenaar wat van korrupsie verdink word moet vervolg word.


Lees verder

Current track

Title

Artist