1 Julie 2024
Die leier van die DA en die nuwe minister van landbou, John Steenhuisen sê kabinetsposisies was nooit vir die DA die eerste prioriteit nie, maar wel om ‘n werklike verskil in die regering te maak.
Hy het vanoggend ‘n toespraak gelewer in reaksie op gisteraand se kabinetsaankondiging. Volgens Steenhuisen was daar ‘n vertraging in die onderhandelinge omdat die DA nie bereid was om sogenaamde afgewaterde kabinetsposte te aanvaar nie.
Steenhuisen sê verder dat die DA naas die ANC die enigste party is wat kabinetsposte in al die groeperings van die regering verteenwoordig, en meen hy kan dus hierdie voordeel gebruik om toe te sien dat die ekonomie groei en poste geskep word.
Die party het ses kabinetsposte, naamlik landbou, binnelandse sake, kommunikasie en digitale tegnologie, basiese onderwys, bosbou, visserye en die omgewing, asook openbare werke en infrastruktuur.
Steenhuisen sê die party is gereed om nou te begin met die werk om “ons mooi land te red, en meen met samewerking is dit moontlik.”