Nuuskommentaar: 4 Desember 2023
Deur: Louis Boshoff
Die skrywer Nassim Nicholas Taleb maak ’n uitlokkende stelling in sy beroemde boek The Black Swan: “Die drie skadelikste verslawings is heroïen, koolhidrate en ’n maandelikse salaris.” Die heroïen en koolhidrate (oftewel “sondige” versnaperings) is vanselfsprekend, maar die maandelikse salaris is onverwags – ’n verskuilde verslawing met verskuilde gevolge. Die gedagte is dat ’n maandelikse salaris (wat op die oog af na ’n goeie ding lyk) ’n ongesonde afhanklikheid kweek wat skeppende waagmoed ontmoedig en ondernemingsgees demp.
Die Suid-Afrikaanse regering, en meer bepaald ANC-parlementariërs, het egter ’n ander verskuilde verslawing met verskuilde nadelige gevolge: reëls maak. Die reëlmaakverslawing se verskuilde gevolge benadeel wel nie die verslaafdes self nie, maar die burgers oor wie hulle regeer.
Om die ANC-parlementariërs se reëlmaakverslawing te diagnoseer, kan eenvoudig gekyk word na die 74 wetsontwerpe wat die Parlementêre Moniteringsgroep tans lys as wetsontwerpe wat iewers trek in die goedkeuringsproses. Daar is wetsontwerpe wat reëls maak oor e-sigarette, spoorwegveiligheid, plantgesondheid, watergebruik, en klimaatsverandering. Oor die posdiens, uitsaaiwese, FM-radiofrekwensies, digitale kommunikasie, internetvoorsiening en elektrisiteitsopwekking. Oor kinders, jeugontwikkeling, bejaardes, egskeidings en Moslemhuwelike. Oor kleinsakeondernemings, groot maatskappye, fondsinsamelings, dobbelary en statistiek. En dan is daar natuurlik die berugte wetsontwerpe oor onteiening, haatspraak, Nasionale Gesondheidsversekering en die wysiging van basieseonderwyswette (oftewel BELA).
Enigeen sal saamstem dat ’n aantal van die wetsontwerpe nodig is en werklik probleme kan oplos, maar daar is beslis meer ywer om nuwe reëls te skryf as om daad by die wet te voeg.
As die wetmaakverslawing gediagnoseer is, wat is dan die verskuilde nadelige gevolge daarvan?
Eerstens skep reëlmakery die illusie dat iets gedoen word om probleme te takel, maar dit rig in der waarheid niks uit nie. Daar is konsepwette oor spoorvervoer en elektrisiteitsopwekking wat voorgee dat dit die vervoer- en energiekrisisse sal beredder. Daar bestaan soortgelyke twyfel oor die akkuraatheid van die jongste sensusdata, en nou is daar ’n nuwe konsepwet oor statistiek, wat die statistikus-generaal in staat sal stel om ’n nasionale statistiekstelsel en ’n nasionale strategie vir die ontwikkeling van statistiek te implementeer. Deftige name vir deftige planne waar daar gewoonlik dadels van kom.
Tweedens hou reëlmakery die opposisie besig en selfs uitgeput. Dis ’n ou politieke strategie: Om een ideologiese doelwit te bereik, word vyf wetsontwerpe geskryf. Daarvan word vier afgekeur en die vyfde een glip deur omdat die ideologiese doelwit verskuil was in ’n lomp sin op bl. 70 van die wetsontwerp. Opposisiepartye en burgerregtegroepe spandeer dae en weke om wetsontwerpe deur te lees, kommentare te skryf, parlementêre voorleggings te lewer, openbare verhore by te woon en ongrondwetlikhede uit te wys.In enige oomblik van onwaaksaamheid voer die ANC-meerderheid hul volgende wetsontwerp deur.
Derdens is die reëlmaakverslawing in staat om van gewone burgers kriminele te maak. Terwyl ernstige misdaad die hoogte inskiet en vervolging in ’n droewige toestand verkeer, sal Jan Alleman spoedig moet ligloop om nie sy sigaret op die verkeerd plek te rook en sodoende ’n misdaadrekord te kry nie.’n Nuwe definisie van haatspraak kan ook strategies aangewend word teen politieke opponente. En so tussen die warboel van reëlmakery, wette en regulasies deur, is selektiewe wetstoepassing per slot van rekening ’n handige pyl om in die ANC-koker te hê.