Die ANC, die Freedom Charter en die immorele moeras van 2022   

Deur on Jun 22, 2022

Nuuskommentaar: 22 Junie 2022

Deur: Jan Bosman

Die ANC as bevrydingsbeweging roem telkemale op sy verbintenis tot die Vryheidsmanifes (Freedom Charter). Die Vryheidsmanifes wat op 26 Junie 1955 te Kliptown onderteken is, word ook gereeld voorgehou in vele ANC beleidsdokumente en openbare standpunte.

Later die week is dit reeds 67 jaar later wat die Freedom Charter  die lig gesien het.   Gereeld bewys regeringsleiers lippediens aan die eerste sin van die Vryheidsmanifes wat lui: “Dat Suid-Afrika behoort aan al die mense wat daarin woon, swart en wit.” Dit sou hierin wees dat sosiale kohesie sy basis moes vind maar soos Prof William Gumede van Wits se Skool vir Regeerkunde dit onlangs gestel het. “Sosiale kohesie is grootliks afhanklik van ’n gelyke vennootskap tussen die regering en nie-regeringspartye soos sakeondernemings, burgerlike samelewingsorganisasies en gewone burgers. Ongelukkig glo talle in die ANC en die regering dat slegs die idees wat van die ANC en die regering kom, geldig is; dat slegs die regering ontwikkeling kan lei en beleide kan maak. Dit beteken dat groot nie-regeringsgroepe uitgesluit, gemarginaliseerd en oorbodig voel – wat daartoe lei dat hulle dinge alleen aanpak en so sosiale kohesie ondermyn.”  Dan volg die belangrike gevolgtrekking wat Prof Gumede maak: “Die ANC se uitsluiting van minderheidsgroepe in die party en die toenemende aanvalle op minderheidsgroepe deur nuwe Afrikanistiese en populistiese partye soos die EFF het veroorsaak dat daardie gemeenskappe onder beleg voel en daarom toevlug soek in etniese laers vir beskerming of hulle aan die openbare lewe onttrek om op gesinne en “hulle” gemeenskappe te fokus en so sosiale kohesie ondermyn.”

As ons die fokus verder neem op die Vryheidsmanifes dan lees ons onder andere in die manifes se subtema met die opskrif: Alle Nasionale Groepe Sal Gelyke Regte hê – die volgende wat die ANC gerieflikheidshalwe ignoreer.  

  • “Daar sal gelyke status wees in die staatsliggame, in die howe en in die skole vir alle nasionale groepe en rasse;
  • Alle mense sal gelyke regte hê om hul eie tale te gebruik, en om hul eie volkskulture en –gewoontes te ontwikkel;
  • Alle nasionale groepe sal beskerm word teen beledigings teen hul ras en nasionale trots;
  • Die verkondiging en praktyk van nasionale, ras- of kleurdiskriminasie en minagting sal ‘n strafbare misdaad wees;
  • Alle apartheidswette en praktyke sal ter syde gestel word.”

Waar die Vryheidsmanifes praat van nasionale groepe is dit in werklikheid niks anders as die term minderhede nie. Dit is minderhede wat in hul somtotaal van Suid-Afrika se diversiteit verteenwoordig, maar wat geïgnoreer word. 

Die bogenoemde ideale, veral die in die Vryheidsmanifes is egter deesdae leë retoriek en kom uitsprake en beleidstoepassing vandag neer op skynheilige of geveinsde retoriek. Dit herinner sterk aan die Britse politikus, Benjamin Disraeli  wat in 1845 na die Tory regering verwys het as “organised hypocricy.”   Dan wonder mens of die Panyaza Lesufi’s en Nathi Mthethwa’s in die ANC ooit die Vryheidsmanifes gelees het en ʼn begrip het van hulle eie beleidsgrondslag. Dit word egter al meer duidelik dat die ANC vasgevang is in sy eie immorele moeras en dat individue na willekeur beleid opmaak om ideologie en politieke oorlewing moontlik te maak en hulle nie steur aan hulle ideale van 67 jaar gelede nie. 


Current track

Title

Artist