Demokrasie in Suid-Afrika word verskillend ervaar deur wit en swart

Deur on

Nuuskommentaar: 9 Februarie 2024

Deur: Jan Bosman

In sy teleurstellende Staatsrede op 8 Februarie 2024 by die tydelike Parlement in die Stadsaal van Kaapstad het die President baie moeite gedoen om die gevolge van apartheid uit te wys. Vir die 90 minute het die president 9 keer verwys na die lot van swart mense – nie een keer na witmense of ander minderhede nie.

Hy het toe die lewe van ʼn jong swart meisie geskets.  Tintswalo wat gebore is met die aanbreek van vryheid in 1994 en haar stryd vergelyk met haar ouers gedurende apartheid en die wonderlike geleenthede wat sy kon ervaar omdat die ANC as die eerste demokratiese regering die dinge vir haar kon gee. Dit het ingesluit, onderwys en maaltye, veiligheid, behuising, water en elektrisiteit, gesondheidsorg, toelaes en NSFAS studiegelde sodat sy haarself na skool kon bekwaam en swart ekonomiese bemagtiging sodat sy werk kon kry, kinders kry en so het almal gelukkig voortgeleef in die sosialistiese paradys.

Tintswalo is inderdaad ʼn baie bevoorregte persoon want die president het ʼn fiktiewe persoon geskep in ʼn fiktiewe samelewing in ʼn staat wat in ʼn fiktiewe omgewing, hoogs funksioneel is.

Maar daar is ook die ander kant van die sosialistiese munt wat die president ignoreer. Hoe iemand wat opsetlik uitgesluit en gemarginaliseer word Suid-Afrika ervaar.  Tintswalo is die denkbeeldige begunstigde van die president se verbeelding en het die president deur uiters rooskleurige lense die lewe van Tintswalo beskryf. Kom ons vertel die storie van Pieter.

Pieter is die seun van ouers wat albei vir die staatsdiens in Pretoria gewerk het. Net soos Tintswalo  is Pieter in ʼn demokratiese land gebore na 1994. Pieter het grootgeword  in ‘n samelewing wat beheer word deur ‘n grondwet wat gewortel is in gelykheid, die oppergesag van die reg, en die inherente waardigheid van elke burger. Net soos wat Tintswalo dit moes ervaar. Pieter het gedink hy sal ook gelykheid en nie-rassigheid ervaar.

Pieter kon sy skooljare in ʼn betreklik middelklas buurt voltooi en het sy ouers wat hard gewerk het getrou skoolgelde betaal om fasiliteite en onderwysers by die skool te kon befonds. Pieter se ouers was staatmakers en het ook gereeld gehelp tydens atletiek en ander sportbyeenkomste om pannekoek te bak om skoolfondse aan te vul.

Pieter se pa wat ʼn loopbaan in die staatsdiens gevolg het het egter spoedig sy werk verloor want deur kader ontplooiing is die ANC se begunstigdes oral in die staatsdiens aangestel.  Hy het gelukkig vinnig op sy voete geland want hy kon deur nutswerk die pot aan die kook hou. Toe Pieter egter universiteit toe wou gaan moes hy uitvind dat die beskikbare beurse geoormerk word vir swart leerders.  Lenings is aangegaan en Pieter kon inskryf by die universiteit. Al sy klasse was egter Engels want dit het die verstek onderrigtaal geword. Gelukkig was Pieter se kognitiewe vormingsjare in ʼn Afrikaanse skool.

In die tyd het Pieter se ma ook haar werk verloor by die weermag waar sy ʼn administratiewe pos gehad het. Die bevelvoerder was nie gelukkig met die witmense onder sy bevel nie. Dit het op ʼn slegte tyd gekom want sy is kort daarna gediagnoseer met ʼn terminale siekte en moes behandeling in ʼn staatshospitaal kry aangesien hulle nie meer privaat mediese sorg kon bekostig nie. Met die hemelhoë misdaad is Pieter se pa se bakkie gesteel een middag by ʼn plek waar hy nutswerk gedoen het.  Skielik het hulle afhanklik geraak van andere en moes hulle ook soek na alternatiewe verblyf. Soos soveel ander was ‘n plakkerskamp hulle voorland.

Pieter het die hoop gehad dat hy na universiteit ʼn goeie werk kon kry en vir sy ouers sorg. Dit was hom egter nie beskore nie. Pieter het, nadat hy sy graad ontvang het, sy CV begin uitstuur na verskillende groot ondernemings. Telkens moes hy stuit voor die voorwaardes in die advertensie vir poste waarvoor hy aansoek gedoen het, want slegs voorheen benadeeldes kon aansoek doen. Regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging het teikens begin stel vir slegs swart aanstellings.

Op universiteit het Pieter vir sy plaaslike span begin krieket speel en later nogal ʼn sterk aanspraakmaker geword vir plek in ʼn provinsiale span. Dit sou vir hom beslis ook in die kollig geplaas het om ver te vorder in ʼn moontlike sportloopbaan, maar streng kwotas is toegepas in die sport syferspel waar meriete nie altyd ʼn vereiste is nie, maar wel velkleur. 

Uiteindelik kon Pieter ʼn minderwaardige pos kry. Bevordering was hom egter nie beskore nie.  Sy wit vel tel teen hom.  Uit sy beperkte salaris het hy wel ʼn huis kon koop en kon sy ouers by hom en sy vrou intrek. Die lewe het egter nie makliker geword nie. Hy het met tyd agtergekom dat hy ʼn dubbele belasting betaal. Hy moes privaatsekuriteit kry want misdaad het bly styg in sy omgewing. Hy kon sy kind na ʼn openbare skool stuur naby hulle maar die voorheen Afrikaanse skool het verengels en sportfasiliteite bestaan nie meer nie. Instandhouding ook nie. Hulle moes verder ry om hulle kind wel by ʼn skool te kon inskryf waar onderhoud gedoen word, sport afgerig word en ander naskoolse aktiwiteite aangebied word. Dit alles kom egter teen ʼn premie. Duur privaat mediese sorg moes uitgeneem word, want die plaaslike staatshospitaal het lang rye waar pasiënte soms vir dae sit en wag om behandeling te kry. Nog ʼn premie word betaal vir addisionele TV kanale want die SANC kan nie sport uitsaai nie.

Pieter en Tintswalo se verhale is soortgelyk aan die van miljoene mense wat sedert die begin van ons demokrasie gebore is.  Maar dit is net deel van die storie.  Die gelykheid en nie-rassigheid wat die grondwet belowe word anders beleef. Tintswalo beleef die demokrasie positief en ontvang die voordeel daarvan omdat haar swart velkleur in haar guns tel. Pieter ervaar die demokrasie wat 1994 gebring het anders en negatief, want om wit te wees bring benadeling en marginalisering. 


Current track

Title

Artist