CoGTA bestee R10-miljoen in vyf maande aan reiskostes

Deur on

9 Januarie 2025

Die departement van samewerkende regering en tradisionele sake, gelei deur minister Velenkosini Hlabisa, het in ‘n tydperk van vyf maande nagenoeg R10-miljoen bestee aan reiskoste.

Die inligting is bekend gemaak deur Hlabisa in antwoord op ‘n parlementêre vraag van ActionSA. Die minister het in sy antwoord bevestig dat dit in die vyf maande sedert hy in dié pos aangestel is, byna R3,5-miljoen gekos het vir sy internasionale en nasionale reise.

Die adjunk-minister in die departement, Zolile Burns‐Ncamashe, se reiskoste vir internasionaal en nasionaal het byna R4-miljoen beloop. Dit het nagenoeg R2,6-miljoen gekos om die departement se ander adjunk-minister, dr. Namane Dickson Masemola, op reis te stuur.

Volgens ‘n parlementslid van ActionSA, Alan Beesley, het die minister egter nie genoeg besonderhede verskaf oor die reise, en waarvoor die kostes aangegaan is nie.

Volgens ActionSA het die party in Desember 2024 bewus geword van die departement van minerale- en petroleum hulpbronne, onder leiding van Gwede Mantashe, se reiskostes wat sedert September verlede jaar R1,92-miljoen beloop.

“Hoewel die onkoste buitensporig is, is dit klein in vergelyking met die departement van samewerkende regering en tradisionele sake.”

ActionSA meen dit wil voorkom asof die nuwe regering van nasionale eenheid, die ou gewoontes van die vorige regerig geërf het om buitensporige kostes aan te gaan.


Current track

Title

Artist