DIE ONTHOOFDE SKELET VAN GIVAT HAMIVTAR
’n Graf wat uit die eerste eeu voor Christus en die tyd van koning Herodus die Grote dateer, is in Jerusalem deur ’n stootskraper oopgestoot. Volgens die eerste ondersoek sou die graf dié wees van die laaste koning van die Hasmoniese dinastie, Antigonus II Mattathias, wat in 37 v.C. gekruisig en daarna onthoof is. Twaalf jaar later is ontdek dat die beendere van die skelet nie dié van ’n man is nie, maar dié van ’n korterige ou vrou wat dus gekruisig en onthoof is. ’n Verdere 20 jaar later is nóg ’n kissie ónder die vloer van die eerste graf gevind met die beendere van ’n volwasse man en kind daarin.