BYBELSE ARGEOLOGIE 2023

Deur on

Ds Neels van Tonder bekyk elke week ‘n nuwe argeologiese skat…

DIE SENSUS WAARVOOR JOSEF EN MARIA MOES REGISTREER
Lukas 2:2 vertel dat Josef en Maria gedurende die tyd wat Sirenius die prokurator in Sirië was na Betlehem gegaan het om vir die volkstelling te registreer. Tydens hulle verblyf in Betlehem het die tyd toe aangebreek dat Maria aan Jesus geboorte moes gee (Luk. 2:6). Volgens historiese bronne was Sirenius in 6-8 n.C. die prokurator in Sirië. Die enigste sensus wat historiese bronne met Sirenius verbind, is dié wat hy in 7 n.C. opgeneem het en toe was Jesus al meer as ’n dekade tevore gebore. Dié raaisel word met interessante inligting uit argeologie bevindinge opgeklaar.
DIE OUDSTE UITBEELDING VAN MARIA, DIE MOEDER VAN JESUS
Argeoloë het in die ruïnes van ’n gebou wat deur die vroeë Christene as kerk gebruik is ’n muurskildery (fresko) gekry van ’n vrou wat besig is om water te skep. Aanvanklik is gedink dat dié fresko Jesus se ontmoeting met die Samaritaanse vrou uitbeeld (Joh 4:1-42). Argeoloë het nou bevind dat dié muurskildery eerder die verhaal uitbeeld waar Maria deur engel Gabriël ingelig word dat sy aan die Seun van God geboorte gaan gee, soos wat die nuus in die apokriewe Evangelie van Jakobus vertel word. As hierdie waarneming korrek is, het argeoloë waarskynlik die oudste uitbeelding van Maria, die moeder van Jesus gevind
DIE VROEË KERK OOR MARIA EN JOSEF
Die vroeë kerk se verstaan van Maria en Josef is nogal interessant. Die vroeë Christene het hoë erkennng aan Maria en Josef gegee, maar het nie sondermeer saamgestem oor die verstaan van die twee mense nie. Hulle het só ernstig oor die rol van Josef en Maria, en veral die beskrywing van Maria, gevoel, dat daar selfs in 431 n.C. ’n spesiale vergadering belê moes word om oor dié saak duidelikheid te kry. Sommiges het na Maria as Theotokos (“God-draer”) verwys. Nestorius het gevoel dat dié beskrywing verkeerd is omdat God nie gebore kan word nie, maar ewig is. Hy het gevoel dat eerder na Maria as “Christustokos” verwys moet word omdat sy aan die mens Jesus as messias geboorte gegee het. Die humeure in die vergadering het erg opgevlam.
Registers waarin die afwesighede van werkers aangeteken word, is toe nie ’n moderne gebruik nie. ’n Ostrakon wat uit 1250 v.C. dateer en tans in die British Museum bewaar word, verstrek inligting oor 40 werkers wat oor ’n tydperk van 280 dae lank om verskillende redes van die werk in die Vallei van die Konings afwesig was. Dié redes sluit siektes in, familiesake, ’n skerpioensteek, en selfs iemand wat by Khonsu gaan drink het. Die tyd wat hierdie register bygehou is, dateer uit die regeringstyd van farao Ramesses II
DIE PROFEET JESAJA SE HANDTEKENING IN JERUSALEM GEVIND
Die ontdekking van ’n kleistempel met die naam “Jesaja” daarop, het groot opgewondenheid in argeologiese en Bybelwetenskaplike kringe veroorsaak – veral onder diegene wat gemoeid is met Hebreeus en die Ou Testament. Dié stempel is boonop in ou Jerusalem gekry, slegs drie meter van die plek af waar ’n ander stempel gekry is waarop die naam van koning Hiskia geskryf is. So dien die ontdekking van die twee stempels as ’n konkrete bewys dat die Bybelse vertellings van die profeet Jesaja en koning Hiskia meriete het om te volg, want hulle het werklik geleef.
DIE UITVINDING VAN DIE WIEL
Die uitvinding van die wiel word steeds beskou as een van die grootste tegnologiese deurbrake in die geskiedenis van die mensdom. Interessant is dat die wiel nie oorspronklik uitgevind is om met die vervoer van dinge te dien nie. Die ontwerp van die wiel het oorspronklik ’n ander bedoeling gehad. In die Bybel word 29 keer na die wiel verwys, 33 keer na waens en 131 keer na strydwaens. Wie die persoon presies is wat die wiel ontwerp het, weet ons nie, maar uit argeologiese navorsing weet ons minstens watter nasie die wiel ontwerp het. Uit argeologiese ontdekkings weet ons ook vandag dat die wiel reeds in ongeveer 3 500 v.C. ontwerp is
WAT WAS DIE “HANDSAKKIE” WAT DIE GODE GEDRA HET?
Die gode van Israel se buurvolkere word dikwels met ’n item in hulle hande uitgebeeld wat lyk soos ’n moderne handsak en polshorlosie wat hulle dra. Wat die verklaring en simboliese betekenis daarvan is, is onlangs maar eers vasgestel. Die beklemtoning in die Psalm- en profeteliteratuur dat die hemel en aarde deur God gemaak is, en aan Hóm behoort, raak ook baie duideliker wanneer die motief en betekenis van hierdie items begryp word.
DIE GRAF VAN ’N HETAIRA IN ISRAEL ONTDEK
’n Graf met die veraste oorskot van ’n jong vrou daarin, wat skynbaar met Alexander die Grote, of minstens van sy generaals verbind kan word, is op die pad tussen Hebron en Jerusalem ontdek. Sy word geïdentifiseer as ’n “hetaira” (gesellin) wat saam op die militêre veldtog geneem is. Binne die graf is ’n bronsspieël uit die Hellenistiese tyd asook vier geroeste spykers gekry. Die graf met die :hetaira” daarin kan gedateer word. Volgens Flavius Josefus het die hoëpriester in Jerusalem, Jaddus, Alexander die Grote in 330 v.C. in ’n vredesontmoeting buite Jerusalem ontmoet.
DIE WÊRELD SE OUDSTE LANDBOUKALENDER
Die oudste landboukalender wat nóg in die wêreld ontdek is, is in Geser in Israel ontdek. Dié ontdekking het groot opslae in die wêreld gemaak. Die kalender dateer uit die tiende eeu voor Christus, dit wil sê uit die tyd van koning Salomo. Die lettertipe van die skrif vertoon ’n Oukanaänitiese dialek wat lig werp op die ontwikkeling van Oudhebreeus. Verder bied die kalender ook insae op die lewe en kultuur van die ou Israelitiese beskawing in die tiende eeu voor Christus.
DIE DIOSKURI WAAROP PAULUS NA ROME GENEEM IS
In Handelinge 28:11 word vertel dat Paulus-hulle aan boord van ’n skip met die beelde van die Dioskuri op sy boeg verder na Rome geneem is ná die skipbreuk waarin hulle by die eiland Malta was. Die Dioskuri was nie ’n vragskip of oorlogskip nie. Die Dioskuri was met drie hoofmaste toegerus. Die Dioskuri wat op die boeg van die skip aangebring is, was beelde van die tweelingseuns van Zeus, Castor en Pollux. Hulle was as beskermgode vir seevaarders en matrose beskou.
DIE SIMBOLIEK VAN DUIWE IN DIE BYBEL
Min simbole het so ’n lang en ryk tradisie as die gebruik van die duif. Die simboliek van die duif kom nie net in die Bybel voor nie, maar ook in die kuns en verhale van baie van die buurvolkere óm Israel en Juda. In een van die mosaïektonele in die Basilika van die Sint Markus Katedraal in Venisië verskyn ’n toneel van Noag waar hy ’n duif uit die ark loslaat. Die verwysing na ’n duif of tortelduif kom 61 keer in die Bybel voor. Soms as die Gees van God, as ’n offeritem, met verwysing na die volk van God, of as ’n liefdesterm onder bemindes. In die kuns is die duif soms ook gebruik om die woord van God voor te stel wat uit die mond van profete vlieg,
DIE DOOD VAN KONING HERODES DIE GROTE
Koning Herodes die Grote se dood het al baie navorsers se belangstelling aangegryp. Verrassend genoeg is daar nogal heelwat inligting in buite-Bybelse bronne opgeteken oor Herodes se gesondheid en siektes. Flavius Josefus haal Nikolaus van Damaskus aan wat elke dag in Herodes se teenwoordigheid was en vertel van ’n hoë koors, ’n onhoudbare gejeuk en ’n slegte reuk wat Herodes gehad het. Hy het op sy sterfbed glo baie deurmekaar geprewel en gedurig na sy vrou Mariamne geroep wat hy in 29/28 v.C. laat vermoor het. Benewens Mariamne, het hy ook drie van sy seuns laat vermoor. Herodes het nie vark geëet nie. Die moorde op sy seuns het keiser Augustus laat opmerk: “Dit is beter om Herodes se vark te wees as sy seun.
DIE MISTERIEUSE KANALE IN JERUSALEM
Soms kan die ontdekking van artefakte argeoloë heeltemal dronkslaan, soos die ontdekking van ’n vreemde soort kanale in Jerusalem wat in 2023 gemaak is. Die kanale dateer uit die tyd van konings Jehoas en Amasia wat oor Juda regeer het. Geen spore van enige bloedmonsters is daarin gevind nie, wat beteken dat die kanale nie as dreinering vir diereslagting of offers gebruik is nie. Dit lei ook nie na enige uitmonding nie, wat daarop dui dat hierdie kanale ook nie vir die dreinering van riool of reënwater gebruik is nie.
DIE ROL VAN DIE SANHEDRIN
In die Nuwe Testament word 21 keer na die Sanhedrin verwys. Die Raad het uit 35 Sadduseërs en 35 Fariseërs bestaan met die hoëpriester as voorganger om 71 lede te vorm. Die woord Sanhedrin beteken letterlik “om saam te sit”. Volgens Josefus het die eerste vol sitting van die Sanhedrin in 57 v.C. plaasgevind. Die laaste sitting was in 425 n.C. Sowel Jesus as Paulus is deur die Sanhedrin verhoor en aan die Romeinse owerheid oorhandig om tereggestel te word.
DIE GROT WAAR DOOIES GERAADPLEEG IS
Britse argeoloë het 30 kilometer suid van Jerusalem ’n grot ontdek waarin hulle tekens gekry het dat die geeste van dooies daar geraadpleeg is. Dié ontdekking het as ’n verrassing gekom, want in die Bybel is daar 28 verse wat teen swart magie, toordery en die oproep van dooie mense se geeste handel. Die ontdekking wat in die Te’ōmimgrot gemaak is, bevestig dat die grot gebruik is vir die praktyk om die geeste van afgestorwenes op te roep
PAULUS SE SKIBREUK EN SKEEPSWRAK
In Handelinge 27:13-38 word vertel dat die skip waarop Paulus na Rome vervoer is, by die eiland van Malta gesink het. In 2005 is aangekondig dat die plek waar die skip skipbreuk gelei het, geïdentifiseer is en vier ankers wat aan die vergane skip behoort het, op die seebodem opgespoor is. ’n Baai aan die noordoostelike kant van Malta, bekend as Sint Paulusbaai, is altyd as die plek beskou waar Paulus se skip gestrand het. In ’n nuwe aanspraak word ’n plek nou aan die suidoostelike kant van die eiland as die waarskynlike plek geïdentifiseer waar Paulus se skip gestrand het.
DIE PLEK WAARHEEN PAULUS GEDRA IS
In Handelinge 21:30-36 word vertel dat die Romeinse soldate Paulus teen trappe opgedra het om hom van woedende tempelgangers te red wat hom wou doodmaak. Die trappe was tussen die tempel en die Antonia geleë wat deur koning Herodes die Grote as kasernes vir die Romeinse garnisoen laat aanbou het om oor die tempel te waak. Die afstand tussen die Antonia en die tempel was só na-aan mekaar dat die Romeinse soldate onmiddellik beheer sou kon uitoefen indien daar probleme in die binnehof van die tempel sou opduik.
PAULUS SE SEEREISE
Paulus het drie keer skipbreukervarings oorleef (2 Kor. 11:25). Seereise het nie ’n groot bekoring vir die mense in die Bybelse tyd ingehou nie. Die see het groot ontsag ingeboesem. Mense het verdrinking gevrees. Vir baie was die see ’n onheilspellende plek wat vervloeking kon bring. In die Bybel is die see dikwels in ’n figuurlike sin as ’n simbool van onheil voorgestel. Passasiers moes op die oop dek plek tussen die vrag vind. Hulle moes ’n skuiling saamneem om hulle teen son, wind en reën te beskerm omdat ’n reis lank kon duur. Die skepe het water voorsien, maar passasiers moes hulle eie kos saamneem.
WIE WAS DIE MISTERIEUSE SEEVOLKERE?
In ongeveer 1 200 voor Christus het ’n groep mense, bekend as die Seevolkere, die stede en beskawings oos van die Middellandse See, begin inval. Die Bybelse Askelon was een van daardie stede wat deur hierdie mense verower is. Al wat bekend is, is dat dié indringers oor die see gekom het. Ramesses III was in 1178 v.C. in ’n geweldige oorlog met hulle gewikkel. Wie hulle presies was en waar hulle vandaan gekom het, kon nog nooit behoorlik vasgestel word nie. So misterieus as wat hulle op die Bybeltoneel verskyn het, so het hulle met die ineenstorting van die Laat Bronskultuur ook uit die geskiedenis verdwyn
JOAS EN DIE STELE VAN ADAD-NIRARI III
Verhale wat in die Bybel opgeteken is, bied nie altyd ’n volledige weergawe van hoe die geskiedenis verloop het nie. Dan kan eksterne getuienis, soos byvoorbeeld inligting op steles of monumente van naburige lande, ’n baie waardevolle bydrae lewer om daardie ongeskrewe geskiedenis wat in die Bybel se bladsye ontbreek, op te klaar. ’n Goeie voorbeeld hiervan is die inligting oor die oorlog wat tussen koning Joas van Israel en Ben-Hadad III van Sirië uitgebreek het. Volgens 2 Konings 13:5 het ’n “bevryder” Israel te hulp gekom, sonder om sy naam te noem. Die sleutel oor wié hierdie “bevryder” is na wie die Bybel verwys, lê in die inskripsie van ’n Assiriese stele wat hom as Adad-Nirari III, identifiseer.
LUCIFER EN Die MÔRESTER
Die betekenis wat ’n vertaling aan ’n teks in die Bybel gee, het gewoonlik ’n groot implikasie op mense se geloof wat met so ’n vertaling gevorm word. ’n Goeie voorbeeld hiervan is die verskil tussen die vertalings van die ou Engelse King James Version (KJV) en die Afrikaanse vertalings van Jesaja 14:12-15. In die KJV word vertel dat Lucifer uit die hemel gewerp is. Die probleem is dat die woord Lucifer nie eens in die Hebreeuse teks voorkom nie. In die Afrikaanse vertalings word die Hebreeuse woord met “môrester” vertaal. Die probleem het ontstaan deurdat die Latynse Vulgaat verkeerd verstaan is, en die vroeë kerkvaders die begrip verkeerd vertolk het. Jesaja het van ’n ou Ugaritiese mite gebruik gemaak, wat deur sy tydgenote goed verstaan is, om te vertel hoe minderwaardig die koning van Babel teenoor die almaktige HERE is. Luister Sondag, 9 Julie 2023, om
DIE MITE VAN LILIT, DIE NAGGEES
In die Bybel staan soms ’n mite geskryf wat ’n mens nie altyd weet wat dit beteken of waar dit vandaan kom nie. ’n Goeie voorbeeld hiervan is die mite van Lilit waarna in Jesaja 34:14 verwys word. Lilith is ’n donker karakter. In die Babiloniese literatuur word sy voorgestel as ’n demoon wat ’n bedreiging vir verwagtende vroue en pasgebore babas inhou. Later is sy beskryf as die eerste vrou wat Adam gehad het voordat Eva deur God geskape is. Sy en Adam het toe rusie begin maak oor Lilit se misbruik van die Naam van God. Dié inligting kom natuurlik nie in die Bybel voor nie en wys net hoe ’n mite in die hande van mense kan verander. Jesaja het die mite van Lilit egter as ’n metafoor gebruik om te demonstreer hoe Edom sal lyk as God met hulle klaar is vanweë hulle ongoddelike optrede.
DIE LEGENDE OOR DIE LOT VAN KAIN
In Middeleeuse skilderkuns en veertiende tot vyftiende eeuse manuskripte word ’n legende uitgebeeld hoe Kain aan sy einde gekom het. Volgens hierdie legende is hy tydens ’n jagtog per abuis deur ’n blinde Lameg met ’n pyl doodgeskiet het. Hierdie interpretasie is afgelei uit Rabbynse en die vroeë Kerk se interpretasie van geregtigheid en hulle soeke na ’n sinvolle verduideliking oor wat van Kain geword het. Luister Sondag, 25 Junie 2023, om 07:30 na die volle storie op die sender van Pretoria FM, of DStv kanaal 887.
DIE WÊRELD SE OUDSTE LANDKAART
’n Kleitablet wat in Akkadiese spykerskrif geskryf is, blyk die oudste wêreldkaart te wees wat nóg ontdek is. Dié tablet word uit die laat agtste of vroeë sewende eeu voor Christus dateer. Dié tablet bied ’n waardevolle insae in hoe die mense gedurende die antieke tyd hulle wêreldbeeld verstaan het. Toe het hulle nog geglo dat die aarde plat is en met ’n see van water omring is waarop die land gedryf het.
DIE STELE VAN SHAMSHI-ADAD V
Die geskiedenis wat in die Bybel vertel word, skets nie altyd ’n volledige prentjie van wat in Ou Israel gebeur het nie. In die British Museum staan ’n stele van die Assiriese koning Shamshi-Adad V wat bevestig hoe groot die woelinge en magstryde om beheer van Israel en die Ou Nabye Ooste gedurende die laat negende eeu voor Christus was. Hierdie inligting bring ook die Bybelse konteks van 2 Konings 9-10 en die bloedige wyse waarop Jehu koning geword het beter in perspektief.
PAULUS EN DIE ALTAAR VIR ’N ONBEKENDE GOD
In Handelinge 17:23 word vertel dat Paulus in Athene ’n altaar teëgekom het wat vir ’n Onbekende God opgerig is. Benewens hierdie altaar is daar ook in Pergamum, teen die Palatynse heuwel in Rome en in Palmira altare ontdek wat vir ’n sogenaamde Onbekende God opgerig is. Al hierdie plekke was in die Romeinse Ryk geleë. Die altaar wat Paulus in Athene aangetref het, was dus nie so ’n geïsoleerde item nie. Hierdie waarneming het die vraag laat ontstaan, hóé wyd die verering van die sogenaamde Onbekende God in die Romeinse Ryk voorgekom het?
JEREMIA SE VLUG NA EGIPTE EN SY DOOD
Volgens bronne van die vroeë kerkvaders is Jeremia in 570 v.C. dood nadat hy deur sy landgenote met klippe doodgegooi is. Ná die Babiloniese inval en die val van Jerusalem in 586 v.C. het Jeremia saam met ’n groep van sy landgenote na Egipte gevlug en nooit weer teruggekeer nie. Nuwe inigting wat nou uit argeologiese en geologiese navorsing verkry is van Egipte se oostelike Nyldelta werp heelwat lig op die roete wat Jeremia en sy Judese reisgenote na Egipte toe gevolg het.
’N KLIPPIRAMIDE IN DIE SEE VAN GALILEA ONTDEK
’n Reuse misterieuse klipstruktuur wat in 2013 onder die water in die See van Galilea in Israel ontdek is, het argeoloë behoorlik aan die raai. Die struktuur toon die vorm van ’n piramide. Van al die Bybelse argeologiese ontdekkings wat in 2013 gemaak is, word hierdie formasie as die tiende grootste ontdekking beskou. Wat wel seker is, is dat die opgehoopte klippe nie deur die natuur so gevorm is nie, maar beslis deur menslike aktiwiteit opgerig is. Die nuutste bevinding oor wát die piramide klipformasie is, kom as ’n verrassing, maar blyk die logieste verklaring daarvoor te wees.
GROOT KRUISIGINGS IN DIE GESKIEDENIS
’n Stukkie potskerf met ’n lettertipe daarop wat deur argeoloë as een van die oudste skrifvorms beskou is wat nóg in Israel ontdek is, is waarskynlik nou finaal ontsyfer. Dié inskripsie was deel van die nek van ’n kruik en blyk ’n handelsverband tussen die koninkryke van Salomo en dié van Skeba te wees. Die Koninkryk van Skeba is natuurlik bekend vir die verhaal van die koningin van Skeba wat na Jerusalem toe gereis het om Salomo se wysheid te kom toets. Die inhoud van die kruik was speserye, wat by die offeraltaar gebruik is. Hierdie waarneming bevestig dat daar tussen ou Israel en die Koninkryk van Skeba ’n aktiewe handel bestaan het
JAVNE SE VREEMDE GRAFTE
In Javne, aan die suide van Israel, is ’n klompie vreemde grafte gevind. Javne was bekend vir sy florerende pottebakkersbedryf. In twee oonde wat nie meer in gebruik was nie, is twee jong meisies gevind wat in die een oond begrawe is, en in die ander ’n donkie wat seremonieel daarin begrawe is. Hoe dit gekom het dat dié twee meisies en ’n donkie in pottebakkersoonde begrawe is, is nogal ’n raaisel.
JESUS AS SONGOD IN DIE JULII-GRAFTE UITGEBEELD
Kontrakteurs het in 1574 herstelwerk in die Sint Petrus Katedraal gedoen toe die vloer skielik meegegee het en ’n groot grafkompleks daaronder oopgegaan het. Binne die kompleks is ’n uitbeelding van Jesus op ’n strydwa gekry wat Hom as ’n Songod uitbeeld, asook ’n uitbeelding van Jona en die vis, ’n man wat visvang en die beeld van ’n herder. Hierdie is ’n belangrike ontdekking vir die verstaan van die vroeë Christene se interpretasie van die evangelie van Jesus Christus.
DIE AGTERGROND VAN PALMSONDAG
Palmsondag word deur Christene gevier in herdenking van die geleentheid toe Jesus op die rug van ’n donkie by Jerusalem ingery gekom het. Dié dag lei die laaste week van Jesus se lydenstyd in. Uit die geskiedenis blyk dat die eerste viering van Palmsondag in die Kerk van Jerusalem begin het. Hulle sou dan begin stap het waar Jesus op ’n donkie by Jerusalem sou inry, tot by die plek waar Hy na die hemel opgevaar het. Oor die eeue heen is hierdie proses met verskeie nuwe seremonies uitgebrei. In lande waar palmbome nie aard nie, het die mense simbolies in die plek daarvan ander aanpassings gemaak
DIE PILATUS-INSKRIPSIE
Pontius Pilatus word in die geskiedenisannale onthou vir talle wreedhede wat onder sy bewind as Romeinse goewerneur van Judea gepleeg is. Behalwe vir die magtiging wat hy gegee het dat Jesus gekruisig kon word, het hy ook op die mure van sy paleis teen die tempelberg van Sion, skilde gehang met die name van verskillende gode daarop. Verder het hy ook van die tempelbelasting geneem en ’n waterleiding in die stad befonds. Sy val het gekom nadat hy opdrag gegee het dat duisende Samaritaanse pelgrims wat besig was om hulle offerdiere te slag, oorval en vermoor moes word (Luk. 13:1)
DIE STRAAT WAT PONTIUS PILATUS IN JERUSALEM GEBOU HET
Pilatus is die meeste bekend vir sy verhoor van Jesus om gekruisig te word, en hoe hy sy hande in onskuld gewas het (Matt. 27:15-26). Argeoloë het nou in Jerusalem ’n straat ontdek wat deur Pontius Pilatus gebou is. Dié straat strek van die Siloampoel tot by die ingang na die tempelterrein, wat bekend is as die Huldapoort. Pilatus was nie gewild onder die Jode nie. Volgens historici het hy dié pad moontlik aangelê om die spanning tussen hom en die Jode te verlig, veral gesien teen die kwaliteit van die pad. So het Pilatus dalk gehoop dat hy sy aansien as prokurator oor Judea by sowel die Jode as die keiser en Senaat in Rome kon verbeter.
DIE DARIUS-INSKRIPSIE IS NIE EG NIE
Binne twee dae nadat die Israelse Raad vir Oudhede op 1 Maart bekend gemaak het dat ’n Darius-inskripsie in Lagis ontdek is, moes hulle dié verklaring terugtrek. ’n Vrou met kundigheid oor Aramees het na vore gekom en verduidelik dat sy dié potskerf gebruik het om aan studente te demonstreer hoe skrywers boodskappe op potskerwe geskryf het en die skerf daar weggegooi het. Sy het niks probeer vervals nie. Hierdie insident het wél weer die aandag op ander vervalsings gewerp, soos byvoorbeeld die Shapira-vervalsings. Moses Shapira het leerbandjies aan die British Museum verkoop onder die dekmantel dat hy dit by die Dooie See ontdek het, en dat die teks daarop ooreenstem met toesprake van Moses wat in die Wetboek van Moses voorkom
DIE ONTDEKKING VAN ’N DARIUS-INSKRIPSIE
Dit gebeur nie elke dag dat ’n man sy rugsak pak om in die natuur te gaan stap, en dan ’n opspraakwekkende vonds maak nie. Dit is wat met Eylon Levy in die Tel Lagis Nasionale Park gebeur het. Hy het die fragment van ’n steen opgetel wat uit 498 v.C. dateer, waarop geskryf staan: Jaar 24 van Darius. Dié inskripsie is die eerste verwysing na koning Darius I (die Grote) wat nóg op Israelse grond gevind is. In Daniël 9:1 word na hom verwys, terwyl hy ook die pa was van koning Ahasveros waarna in die Boek Ester verwys word. Wat ’n belangrike ontdekking!
SERGIUS PAULUS, APOSTEL PAULUS SE EERSTE BEKEERLING
Sergius Paulus word in Handelinge 13:7 beskryf as ’n verstandige man wat in Pafos ontvanklik was om na Paulus en Barnabas se evangelieboodskap oor Jesus te luister. Volgens Lukas se vertelling was hy die prokonsul in Ciprus. Argeoloë het al verskeie stene ontdek waarop sy naam voorkom, wat dus kan bevestig dat Sergius Paulus werklik geleef het en die Bybelse vertelling histories meriete het om te volg. Die Soloi-inskripsie, Tiber-inskripsie en Antiogië-Pisidië-inskripsies werp meer lig op wie Sergius Paulus was. In Paulus se brief aan die Romeine ontbreek sy naam in die lys aan wie Paulus groete stuur. Die rede daarvoor is dat Sergius Paulus met Paulus se skryf van die brief aan die Romeine toe moontlik reeds oorlede was.
BARNABAS, DIE “SEUN VAN ONTFERMING”
Barnabas word in die boek Handelinge as ’n uitnemende leier voorgestel wat ’n groot rol in die vroeë kerk gespeel het. Hy het nie geskroom om sy lewe te waag om ander Christene, insluitend dié van Paulus, te hulp te snel nie. Barnabas se regte naam was Josef. Hy was ’n Leviet. Barnabas was net ’n bynaam. Die naam beteken letterlik “Seun van Ontferming” omdat hy daarvoor bekend was dat hy altyd besig was om na ander uit te reik en mense moed in te praat (Hand. 4:36). Hoe Barnabas fisies gelyk het, is nie bekend nie. Die meeste voorstellings in die Christelike kuns stel hom as ’n bejaarde en stewig geboude man voor. Dié voorstelling hang waarskynlik saam met hoe die god Zeus in die Griekse mitologie voorgestel word. Volgens Handelinge 14:11-13 het die mense van Listra na Barnabas as Zeus verwys en na Paulus as Hermes nadat hulle ’n gestremde man se voete genees het.
DAARDIE BRUTALE SABBAT IN 168 v.C.
In 2 Makkabeërs 5:11-14, word vertel van ’n allerverskriklike slagting waaronder die Jode in 168 v.C. in Jerusalem deurgeloop het. Een Sabbatoggend het 22 000 soldate van die Seleuciede-regering in die stad aangetree, wat vir die inwoners na ’n militêre parade gelyk het, en toe vind ’n reuse slagting plaas. Binne drie dae is 40 000 mense grusaam om die lewe gebring, is 80 000 mense vermis, en ’n verdere 40 000 vroue en kinders in slawerny gedompel. Hierdie tragiese gebeure het destyds ’n groot invloed gehad op die Jode se interpretasie van die onderhouding van die Sabbatsgebod. Die vraag het ontstaan of mense wat aan die verbond van die HERE behoort op ’n Sabbat aan oorlog mag deelneem of nie. So is ’n duisend Jode een Sabbat in die woestyn vermoor omdat hulle eerder met ’n skoon gewete wou sterf as om die Sabbat te verontreinig. Toe neem Judas Makkabeus die leiding met die Makkabese opstand en bring ’n nuwe insig.
’N VLUGTELING UIT DIE MAKKABESE OPSTAND SE GELD GEVIND
Gedurende die tweede eeu voor Christus was Judea in ’n fel stryd teen die Seleuciede-regering gewikkel. In 167 v.C. het die Makkabese Opstand uitgebreek nadat Antiogus IV Epifanes ’n vark vir Zeus op die altaar in die tempel van Jerusalem geoffer het. Die rebelle het met guerillatktiek vanuit die berge die opstand gevoer. In Mei 2022 is ’n houer met 15 silwer muntstukke daarin in die Murabaätgrot gekry waar dit deur een van die vlugtende rebelle versteek is om later te gaan haal. Daardie “later” het ongelukkig nooit vir daardie man gekom nie, want hy het waarskynlik in die rebellestryd omgekom.
’N GESKREWE SLINGERVELPROJEKTIEL IN JAVNE GEVIND
Oorlog was nog nooit ’n mooi ervaring nie. In die antieke en klassieke tyd was dit ook nie anders nie. Wanneer vegtende partye mekaar vir etlike ure met hulle slingervelle onder ’n reën van projektiele steek, kan so ’n aanval verwoestende skade aanrig. Die projektiel wat by Javne gevind is, was nie van klip soos wat ’n mens normaalweg sou verwag nie, maar van lood gevorm. Wanneer letterlik honderde sulke loodprojektiele geslinger word, moet die effek daarvan skrikwekkend wees. Wat hierdie projektiel uniek maak, is dat die lood met ’n inskripsie daarop beskryf is wat bedoel is om die teenparty se moraal ’n knou toe te dien. Aan die een kant daarvan het gestaan “Oorwinning”, en op die ander kant, “Van Herakles en Hauronas”.
DIE AANNAME DAT DIE GRAF VAN DIE VROEDVROU MET JESUS SE GEBOORTE GEVIND IS
Die Israelse Raad vir Oudhede het bekend gemaak dat argeoloë ’n graf ontdek het met ’n inskripsie daarin wat dié grot as die graf van Salomé identifiseer wat Maria as vroedvrou tydens die geboorte van Jesus bygestaan het. In die apokriewe Proto-evangelie van Jakobus word meer oor Salomé vertel. Die illustrasie is dié van die Griekse inskripsie in die grafkompleks wat meedeel dat die grot aan Salomé gewy is. ‘n Bisantynse kerk het daar aanbid.
DIE INSKRIPSIE: “CHRISTUS, DIE GEBORENE VAN MARIA” In die Jisreëlvallei in die noorde van Israel, by ’n klein plekkie wat bekend is as Taibe, is in die ruïne van ’n muur wat vermoedelik deel van ’n kerk uit die Bisantynse tyd was, ’n inskripsie gekry wat lees: “Christus, die geborene van Maria”. Die inskripsie dateer uit die vyfde eeu en is die eerste aanduiding dat daar in daardie omgewing ’n kerk in die Bisantynse tyd bestaan het. Dié bewoording is skynbaar as ’n vorm van beskerming gebruik om die kerk teen die invloed van die Bose te beskerm. Die inskripsie word onderbreek met ’n groot ronde area wat leeg is. Dié leë paneel blyk oorspronklik ’n plek te wees waar ’n groot kruis ingelê was en in ’n stadium verwyder is.


Current track

Title

Artist