DIE GRAF VAN DIE “VOËLORAKEL” IN PERGAMUM
Pergamum word in Openbaring as een van die sewe gemeentes in Klein-Asië genoem (Op. 1:11; 2:12). Die plek was veral bekend vir sy groot, wit marmeraltaar en die verering van Asklepios, die god van genesing en medisyne. In Pergamum was daar ’n priester, genaamd Markos, wat in die stad bekend was as die “voëlorakel”. Hy het die gedrag, geluide en vliegpatrone van voëls bestudeer en daarvolgens ’n goddelike afleiding van die toekoms gemaak. Markos se graf is intussen in Pergamum ontdek. Dié ontdekking het ook nou opnuut weer lig gewerp op die Hetiette wat alreeds in die veertiende eeu voor Christus die vliegpatrone van voëls bestudeer het om die toekoms te voorspel, of om dit as boodskappe van die gode te verstaan.