HIPPOLITUS EN 25 DESEMBER AS DIE DAG VIR KERSFEES Die persepsie dat die feesdag van Sol Invictus as ’n verlengde dag van die Saturnaliafees deur die Christene oorgeneem is om Kersfees te vier, is ’n growwe mite en totaal onwaar. Sol Invictus is deur keiser Aurelius in 274 n.C. ingestel. Tertulianus het reeds in 200 n.C., dus 74 jaar vroeër, die datum vir die geboorte van Christus volgens die Johannesevangelie op 14 Nisan, dit is 25 Maart volgens die Gregoriaanse kalender, vasgestel. In die biblioteek van die Vatikaan staan ’n standbeeld van Hippolitus wat die Sol Invictus-teorie nog verder verkeerd bewys. Aan die kant van die stoel waarop dié vroeë kerkvader uitgebeeld word, verskyn ’n inskripsie wat in 222 n.C. aangebring is wat die datum vermeld waarop Maria deur die Heilige Gees swanger gemaak is. Die standbeeld van Hippolitus het sélf ’n besondere geskiedenis. Dit is in ’n uiters beskadigde toestand in die sestiende eeu ontdek. Onder by die voete van Hippolitus kan die valletjies van ’n vrou se onderklere gesien word waar dit onder die toga uitsteek. Uit die oorspronklike skets wat van die beskadigde standbeeld gemaak is, kon vasgestel word dat Hippolitus se standbeeld ’n rekonstruksie van ’n standbeeld was wat oorspronklik dié van ’n vrou was.