Boeing-vliegtuig verloor ‘n wiel kort nadat hy opstyg

Deur on

9 Julie 2024

Die lugredery, United Airlines sê nog een van sy Boeing-vliegtuie het een van sy wiele verloor terwyl hy Maandag opgestyg het.

Dié voorval herinner sterk aan ‘n soortgelyke voorval in Maart wat daartoe gelei het dat ‘n federale lugvaartveiligheidsowerheid ‘n ondersoek na dié redery gelas het.

Niemand is beseer toe die Boeing 757-200 vanaf Los Angeles gister opgestyg het en op die Denver Internasionale Lughawe geland het nie.

Die redery wou nie besonderhede oor die voorval verskaf nie behalwe om te sê dat die wiel in Los Angeles gevind is en dat nie een van die 174 mense aan boord – of enigeen op die grond – beseer is nie.

LEES OOK: BOEING DIREKTEURE STAAR HOFGEDING IN DIE GESIG WEENS VLIEGONGELUKKE

Dit kom te midde van Boeing se aankondiging dat hy ‘n ooreenkoms met die VSA se departement van justisie bereik het oor twee noodlottige ongelukke waarby sy 737 MAX-vliegtuie betrokke was.

Die ooreenkoms volg nadat aanklaers tot die gevolgtrekking gekom het dat Boeing ‘n vroeëre skikking oor die rampe – waarin 346 mense meer as vyf jaar gelede in Ethiopië en Indonesië dood is – verontagsaam het.

In ‘n verklaring sê Boeing dat hy ingestem om skuldig te pleit op ‘n klag dat hy saamgesweer het om die Verenigde State te bedrieg tydens die sertifisering van MAX-vliegtuie.

Daar moet ook ‘n minimum van $455 miljoen in nakoming- en veiligheidsprogramme belê word terwyl vergoeding vir naasbestaandes van die slagoffers deur die hof bepaal sal word.


Lees verder

Current track

Title

Artist