Bloedskenk vanuit die oog van ‘n baie dankbare ontvanger

Deur on

Nuuskommentaar: 13 Junie

Deur: Herman Toerien

Vrydag 14 Junie is wêreldbloedskenkdag en Pretoria FM neem aktief aan ‘n lofwaardige projek deel om dit te ondersteun. Baie is geskryf oor hoe skenkers eintlik helde is, en lewens help red. Die bemarking hiervan is lofwaardig, en enige handeling om mense aan te moedig om skenkers te word, of te bly, moet ondersteun word. In Suid-Afrika word skenkers nie vergoed nie, onder meer omdat in lande waar dit wel gebeur, twyfelagtige skenkers soos dwelmslawe dit misbruik om ‘n geldjie vir ‘n “joint” te kry, en dit terwyl hulle gewoonlik juis hoë risiko-skenkers is. In plaas van ‘n lewe te red kan hulle ‘n lewe verwoes of selfs neem.

Daar is ook mense wat graag wil skenk en ‘n veilige, sober lewenstyl handhaaf, maar weens faktore buite hul beheer nie kan skenk nie – mense soos Maltakoors-lyers, mense wat geelsug gehad het, of ander siektes onder lede het.

Maar daar is ook ‘n ander kategorie betrokke, die ontvangers van die geskenkte bloed. Die dankbaarheid wat hierdie mense ervaar, word nie so dikwels publisiteit verleen nie.

Die uwe is so ‘n geval, en ek wil graag namens ander dankbare ontvangers dank betuig aan diegene wat wel skenk, en mense wat nog aarsel, aanmoedig om wel so te maak.

Ironies, voor ek met kanker gediagnoseer is en sowat 20 bloedoortappings moes ontvang, was ek self nie ‘n skenker nie. Ek wou graag, maar ek het Maltakoors onder lede gehad, en is belet om deel te neem. Nie net was ek self gemotiveer om te skenk nie, daar was soms ander druk, soos toe ek redakteur van ‘n koerant was, en ‘n plaaslike radiostasie die stad se twee koerantredakteur genooi het om te kom skenk. Ek kon nie want ek het ‘n Maltakoors-lesing getoon. Die ander redakteur kon ook nie sy neus vir reklamedoeleindes voor kry nie, want hy het voorheen geelsug gehad.

 Ek het gaan uitvind of daar nie iets te doene was nie, en die Bloeddiens gebel om te hoor of ek dalk kan bloed skenk om plasma van te maak. Na heelwat uitvraery is ek verseker ek kan skenk. Die bloedmonster om my ystervklak te toets was reeds getrek, en die druppel het soos ‘n klip in die toetsmengsel geval. Maar toe ek die vraelys invul, begin ek bedenkinge kry, en ek vra vir ‘n beampte by die skenkerspunt daarna. Die antwoord was beslis dat ek nié mag skenk nie.

Amper tien jaar gelede is vasgestel dat daar ‘n groot skroef met my bloed los was. Die een internis, wat bekend was daarvoor dat hy ‘n ding stel soos dit is, al was dit dalk nie altyd so taktvol nie, het gesê die bloed is ‘n gemors. Meer toetse moes gedoen word, maar intussen moes ek ‘n dubbele bloedoortapping kry, en kon dan vir die naweek huis toe gaan, en die Maandag vir nog ‘n oortapping terug hospitaal toe gaan. Intussen is gesoek na ‘n diagnose, wat geblyk het ‘n uiters skaars kanker, bekend as Waldenstrom, te wees. Die naam, wat ‘n skilderagtige woudstroompie beteken, het egter nie die harde werklikheid van die kanker beskryf nie. Soos bloedkanker, veroorsaak dit ‘n tekort aan rooibloedselle, vandaar die dringende nodigheid vir bloedoortappings.

Intussen is ‘n wye reeks toetse gedoen, sodat toe ek en my vrou, Joan by dr. Frieda Pienaar in haar spreekkamer was om te hoor wat die diagnose was, ek moes hoor dat ek boonop ‘n tweede soort kanker ook het.

Die gevolg was ‘n groot spektrum behandelings. Dit het chemo behels, bestraling, en inspuitings. Die mediese fonds het aanvanklik vasgeskop teen ‘n biologiese middel wat toegedien moes word, maar uiteindelik kopgegee. Met die eerste toediening het ek egter in Noodgevalle beland – blykbaar allergies vir die middel.  Later moes ‘n ander chemo gebruik word, en weer eens het die mediese fonds vasgeskop – tot op die laaste nippertjie.

Maar tussenin was daar een standvastigheid – as ek moes bloed kry het ek dit gekry. Soms moes ‘n dag of wat gewag word om geskikte bloed te kry, want meer faktore as net die bloedgroep moes klop. Soms was meer as een eenheid nodig as die bloedtelling vinniger laer geword het as wat verwag is. Een keer was die telling na die eenheid toegedien is laer as voor begin is met die oortapping. Natuurlik het ek my water en ligte weggeskrik, tot ‘n internis later verduidelik het hoe dit kon gebeur het.

Maak nie saak of dit Kersdag, of Oujaarsaand was nie, as bloed toegedien moes word, is dit toegedien. Dan besef ‘n mens daar is engele onder ons – nie noodwendig met vlerke en harpe nie, maar met sagte diksoolskoene, en hulle loop deur die loop van hul skofte lang, lang afstande, versorg en vertroos.

En elke pasiënt, terminaal of nie, droom van ‘n toekoms. Soms is dit eenvoudig, soos ‘n kamermaat wat al drie weke opgeneem was, en iets wou oorkom van die lus vir ‘n Aga-gebraaide skaapribbetjie van die plaas by Aliwal-Noord af. Die oggend toe sy kinders hom sou kom haal was sy tasse sommer donker-oggend gepak en voor sy bed gereed. Al het hy geweet die kinders het onderweg nog ander verpligtinge, soos kleinkinders se sportbyeenkoms.

Naderhand verneem hy sy mense trek nou al by Reddersburg, die naaste dorp aan Bloemfontein op die roete wat sy mense moes kom. ‘n Ruk later kom sê ‘n verpleegster dat sy mense teenspoed gekry het en moes terugry Aliwal-Noord toe. Hy was verslae dat hy nog ‘n dag vir daai brosgebraaide  ribbetjie moes wag. Maar nog besig om te verduidelik hoe teleurgesteld hy is, toe sien hy sy skoondogter ingestap kom. Almal saamgespeel om hom ‘n streep te trek.

Maar gewoonlik is dit mense wat ‘n terminale siekte, of potensieel terminale siekte het se droom om hul gesinne te beleef. So het ek die voorreg gehad om ons oudste seun se troue by te woon, en ons wonderlike kleindogter is nou al drie jaar oud. Ek en Joan is nou al meer as 33 jaar getroud.

Dank die Here vir hierdie voorregte, maar ook baie, baie dankie aan die bloedskenkers wat bereid was om instrumente vir die Here te wees.  

(Naskrif: Die Waldenstrom het later in Bing Neel-sindroom omgesit. Dis ook terminaal, maar ek kry nie meer bloedoortappings of enige behandeling of medikasie nie. Ek noem wat ek nou beleef ‘n bonustyd. Ironies het die Maltakoors om ‘n onbekende rede opgeklaar, maar mag steeds nie bloed skenk nie.)


Current track

Title

Artist