Bied ‘nasiebou’ die gom vir samewerking?

Deur on

Nuuskommentaar: 26 Julie 2021

Deur: Werner Human

Terwyl die land tot verhaal kom na die ongekende plundering en geweld wat oor die afgelope paar weke in KwaZulu-Natal en Gauteng plaasgevind het, is daar heelwat geskryf oor wat die verskeie verklarings vir die onluste mag wees. Grootliks is daar eenstemmigheid oor die gebeure wat tot hierdie gewelddadige wetteloosheid gelei het, alhoewel daar ʼn paar klemverskille mag wees oor die gewig wat die onderskeie verduidelikings dra.

Die optrede van verskeie gemeenskappe wat saamgesnoer het om die veiligheid van hulle buurte en ondernemings te beskerm, is tereg wyd geloof en verwelkom. Gemeenskappe het in die nypende koue en gevaarlike omstandighede nagte om gewerk om hul gemeenskappe en ondernemings te beveilig.

Alhoewel aansienlike tyd reeds daaraan bestee is om die verklaring vir die gebeure uiteen te sit, asook wat die verwagte herstelpad sal inhou, is daar min geskryf oor wat teweeggebring het dat die organisering op plaaslike vlak, deur verskeie organisasies en mense wat by hierdie prysenswaardige pogings aangesluit het, so goed en doeltreffend was.

Dit is ʼn vraag wat die moeite werd is om by stil te staan, en bykomend daartoe te vra of daar lesse opgesluit mag wees vir die omvattende krisisse wat die land ondervind.

Om dieper in die vrae te delf, laat ons begin deur stil te staan by die woorde van president Ramaphosa in die betrokke tyd.

Hy het die optredes van gemeenskappe om hul “bates” te beskerm geprys, gesê dat die demokratiese orde van die land aangeval word, en dat alles in die stryd gewerp moet word om die skuldiges aan die pen te laat ry. Goed.

Meer spesifiek het hy die saamtrek van gemeenskappe verklaar op grond van hul diepe toewyding aan die land se demokrasie, ʼn weersin wat almal daarin het om toe te laat dat demokratiese Suid-Afrika weens geweld misluk, en dat almal die oogmerke van die Grondwet wil beskerm. Hy moedig almal aan om aan te hou saamwerk om die “menslikheidsprojek” in Suid-Afrika te bevorder.

Hy is ongetwyfeld opreg wanneer hy hierdie woorde uitspreek – maar dit is hier waar ons kan sê: wag ʼn bietjie.

Die deurslaggewende faktor vir samewerking en plaaslike organisering is nie beskerming van die demokrasie of die geïnstitusionaliseerde transformasieprojek van die regering nie. Dit is ook nie die idee dat ons hierdie edele ideale van die Grondwet vooropstel in ons veiligheidspogings op gemeenskapsvlak nie.

Nee, dit is iets veel meer beskeie, maar ook iets wat strook met die werklikheid van ʼn mislukkende staat.

Die werklikheid is dat samewerking oor ʼn wye spektrum in staat gestel word deur “gedeelde belange tussen gemeenskappe”.

Elkeen is besorgd oor die veiligheid van hul gesin, woonbuurt, gemeenskap, skole en ondernemings. Die grondvlakwerklikhede noop mense om te organiseer oor ʼn verskeidenheid van kwessies, nie net veiligheid nie.

Die belangrikheid van gemeenskapsinstellings kan hier spesifiek gemeld word.

Hierdie instellings skep die infrastruktuur vir vrywilligers om betrokke te raak, die nodige opleiding te ontvang en behoorlik toegerus te word, en vandaar vaardighede en kennis op te bou om ʼn veilige gemeenskapslewe te help verseker, om private opleidingsinstellings van hoë gehalte te bou, om dienslewering op praktiese wyses te bied – soos om slaggate te herstel – en om maatskaplike hulp te verleen aan diegene wat in die droewigste omstandighede leef.

Nee, dit is nie die vae, gewilde term van “nasiebou” wat samewerking bewerkstellig nie, maar ʼn begrip vir jou eie gemeenskap – om die waarde daarvan te ontsluit en raakpunte met ander te vind waar dit toepaslik is.

Mag hierdie kommerwekkende vlaag van anargie en wetteloosheid die belangrikheid van georganiseerde gemeenskappe beklemtoon, en hierdeur ʼn skuif weg van ontasbare idees na groter selfstandigheid en vryheid vir almal teweegbring,

Hou Afrikaans op die lug

Klik hier


Current track

Title

Artist