29 November 2024
Die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) het ‘n hofbeslissing verwelkom wat die Nkomazi-munisipaliteit sal dwing om bevolkingsbeheer onder wilde diere in Marloth Park, Mpumalanga, toe te pas.
Dit volg nadat die NDBV die hooggeregshof in Mbombela (Nelspruit) genader het om verligting vir die diere van Marloth Park te bring. Die dorp grens aan die Krugerwildtuin.
Volgens die NDBV se woordvoerder, Jacques Peacock, het die wanbestuur van die omgewing tot erge oorbevolking en oorbeweiding gelei wat gevolge soos siektes, hongersnood en selfs vrektes vir die diere inhou.
Die probleem met oorbevolking het reeds in 2015 begin. In 2017 het die Marloth Park Belastingbetalersvereniging ‘n hofinterdik bekom om die munisipaliteit te keer om die dire van kant te maak.
Die hof se beslissing beveel die munisipaliteit ook om bykomende voeding en veearts-dienste te verskaf waar nodig. Die munisipaliteit het ook die beslissing verwelkom.