Nuuskommentaar: 21 Desember 2023
Deur: Ilze Nieuwoudt
Die jaar is so te sê op sy einde. Net soos soveel mense se geduld en gemeet aan
spandering hierdie tyd van die jaar, sal baie mense se geld ook kort voor lank op ’n einde
wees.
Intussen raak iets so eg Afrikaans soos ’n braaibroodjie so peperduur dat selfs hierdie
eenvoudige bykos ’n luuksheid geword het waaraan jy met selfs meer genot moet smul as dit
die dag op jou bord beland. Volgens ’n indeks wat vroeër die week op die
sosialemediaplatform X gepubliseer is, is braaibroodjies nou al 62,5% duurder as vyf jaar
gelede.
Ons gewone sterflinge het lank reeds geleer dat die fyner dinge in die lewe – soos filet en
skaaptjoppies – net bestem is vir die groot geleenthede. Soos verjaarsdae, maar nie net
sommer enige hierjy-verjaarsdag nie. Dit moet iets groot wees, soos Tannie Tokkie Basson
van Sinoville in die noorde van Pretoria se verjaarsdag. Dié tannie vier volgende week haar
101ste verjaarsdag. Daarvoor kan die filet en selfs ’n paar braaibroodjies gerus bedien word.
Gepraat van groot geleenthede – wanneer dit kom by inkopies is min dinge deesdae so groot
soos Swart Vrydag. Suid-Afrikaners het hierdie jaar nie teleurgestel nie. Plaaslike kopers het
in November in ’n inkopie-waansin verval met hierdie amper volksvreemde Swart Vrydag-
manie. Kort daarna is aangekondig dat hoewel verbruikers die rieme veel fyner moet sny as
verlede jaar, daar steeds gedurende vanjaar se Swart Vrydag verkope van meer as R4,5
miljard aangeteken is.
Swart Vrydag word tradisioneel geag as die begin van die feestyd-inkopieseisoen. Kenners
meen boonop dat verkope tydens Swart Vrydag ’n goeie aanduiding is van hoe verkope oor
die feestyd daarna sal uitsien. Vanjaar het die verkope van telekommunikasieprodukte, soos
selfone, koning gekraai. Huishoudelike toestelle, IT-produkte en elektroniese produkte, soos
televisies, was ook weer gewild.
Die marknavorsingsmaatskappy GfK and NIQ se hoofuitvoerende beampte, Zak Haeri, het
hierdie week in die media gesê dat inkopiegangers hul keuse in die aankoop van vlot
verkoopbare goedere in die afgelope tyd aangepas het. Vlot verkoopbare goedere is daardie
produkte met ’n kort rakleeftyd as gevolg van die aanvraag daarna, soos koeldranke en
snoepgoed, of bederfbare produkte, soos vars melk. Waar kopers voorheen net sekere
handelsmerke oorweeg het, kies sowat ’n derde van Suid-Afrikaanse inkopiegangers nou
eerder die goedkoopste produk op die rak, sê Haeri.
Vroeër vanjaar het Discovery Bank en Visa die SpendTrend 23-verslag uitgereik. Die verslag
stel ondersoek in na Suid-Afrikaners se spanderingstendense. Daarvolgens gee mense die
grootste gedeelte van hul inkomste uit aan kruideniersware, reisuitgawes en kitskos. Die
toename in beurtkrag word aangevoer as een van die redes vir die verhoogde kitskos-
kopery.
Miskien is dit ook deel van ons kitskultuur. Mense jaag meer en meer kitsoplossings na. Of
dit nou kits-maermaakpille of -diëte is, of allerhande slim planne om in ’n japtrap ryk te word,
of die een na die ander kort TikTok-video waarin lewenswyshede binne ’n kwessie van
enkele sekondes soos soetkoek opgedien én opgeëet word.
Dalk is hierdie dolle gejaag en strewe na kitsoplossings juis die rede vir ons verlies aan
geduld en verhoogde spandering – want al kan ek nie nou dadelik daardie duur
platskermtelevisie bekostig nie, is plastiek mos geduldig!
Mag hierdie Desember ’n tyd wees van stil word, rustiger word. Mag ons bietjie stadiger leef,
minder koop en selfs die stilte wat beurtkrag bied, waardeer. Steek dan maar die vuur aan en
maak ’n braaibroodjie.