Betogings in Westerse stede laat vrees oor toekoms toeneem

Deur on

Nuuskommentaar: 8 November 2023

Deur: Jaco Kleynhans

In 1809 het die Britse digter Robert Southey in sy gedig “The Curse of Kehama” ’n stelling gemaak wat sedertdien toenemend ’n politieke konnotasie gekry het. Southey se stelling “Vervloekings is soos jong hoenders; hulle kom altyd huis toe om te slaap” word reeds vir meer as twee eeue lank gebruik om te verwys na politieke of ander verkeerde dade waarvan die gevolge uiteindelik wel uitspeel.

Die uitdrukking van hoenders wat sonder twyfel in die aand sal terugkeer om te slaap, word die afgelope paar dae weer toenemend in Westerse lande gebruik, veral na aanleiding van reusagtige pro-Palestynse betogings wat ook toenemend gewelddadig is, maar wat veral bevestig dat immigrasie oor jare tot ’n massiewe onassimileerbare Moslem-bevolking in die meeste Westerse lande gelei het.

Saterdag het byna driehonderd duisend mense in die Amerikaanse hoofstad Washington DC aan ’n pro-Palestynse betoging deelgeneem. Betogers het regdeur die Amerikaanse hoofstad Amerikaanse vlae met Palestynse vlae vervang, terwyl slagspreuke geuiter is wat die uitwissing van alle Jode en die versoek vir ’n intifada of burgerlike opstand, ingesluit het. ’n Honderd duisend betogers het voor die Withuis saamgedrom, die reusestaalheining om die Withuis probeer afbreek en toe die standbeeld van die voormalige Amerikaanse president Andrew Jackson probeer afbreek. Nog tientalle ander standbeelde is ook beskadig.

Saterdag se betoging was, net soos betogings die afgelope paar weke in talle ander Amerikaanse stede, maar ook in stede in Brittanje, Nederland, België, Frankryk, Italië, Swede en Duitsland, nie bloot pro-Palestynse betogings wat oor ’n besorgdheid oor Palestyne tydens die huidige oorlog in die Gaza-strook of selfs die lewensomstandighede van Palestyne in die algemeen gegaan het nie. Die betogings is meestal ook pro-Hamas-betogings met die vlag van dié terreurgroep wat saam met vlae van ander terreurgroepe soos Al-Kaïda en die Islamitiese Staat by al die betogings gebruik word.

In Duitsland het dié land se visekanselier, Robert Habeck, ’n lid van die linkse Groenparty, verlede week in ’n videotoespraak aan lede van sy party gesê dat Hamas vernietig moet word omdat dit die proses van vrede in die Midde-Ooste vernietig. Habeck het in dieselfde video sy kommer uitgespreek oor die hernude opkoms van anti-Semitisme in Duitsland, met spesifieke verwysing na reusagtige pro-Hamas-betogings wat die afgelope tyd in Berlyn plaasgevind het. Habeck is selfs bereid om Hamas-simpatiseerders na hulle lande van oorsprong te deporteer.

In Brittanje het dié land se adjunk-premier, Oliver Dowden, Sondag sy ernstige kommer uitgespreek oor ’n enorme pro-Palestynse betoging wat vir eerskomende Saterdag in Londen beplan word. Dit sal saamval met Wapenstilstandsdag waarop die einde van die Eerste Wêreldoorlog herdenk word. Die afgelope Saterdag is vier polisiemanne in Londen beseer toe pro-Palestynse betogings handuit geruk het.

Die VSA en byna elke land in Wes-Europa het deesdae snelgroeiende Moslem-immigrantebevolkings wat reeds tussen 10% en 20% van hierdie lande se bevolkings uitmaak. Dit is baie duidelik dat hierdie immigrantebevolkings geen behoefte het om te assimileer nie. Hulle skep bloot in Westerse lande parallelle samelewings wat dan ekonomiese voordeel uit die rykdom en ekonomiese omvang van die gasheerland put.

Dit raak al hoe duideliker dat jarelange byna onbeheerde immigrasie tot ’n krisis in Westerse lande lei. Die optrede van immigrantebevolkings en toekomstige botsings en konflik mag dalk net die Weste se spreekwoordelike hoenders wees wat tuiskom om te slaap.


Current track

Title

Artist