fbpx

Beslissende laaste drie maande van Amerikaanse verkiesingsveldtog

Deur on Aug 5, 2020

Nuuskommentaar: 5 Augustus

Deur: Jaco Kleynhans

Die Amerikaanse presidentsverkiesing vind oor minder as drie maande plaas. Die sewe-en-sewentigjarige voormalige Amerikaanse adjunk-president en kandidaat van die Demokratiese Party, Joe Biden, sal binne die volgende paar dae sy keuse vir adjunkpresident, sou hy op 3 November verkies word, bekend maak. Daarna volg die twee partye se nasionale konferensies later hierdie maand.

Vanjaar se Amerikaanse verkiesing bied unieke uitdagings vir die kandidate. Tydens ‘n gewone verkiesingsjaar sou die kandidate nou reeds regoor Amerika in sportarena’s en konferensiesentrums ondersteuners toegespreek het.

Die aankondiging van ‘n kandidaat se keuse vir adjunkpresident vind gewoonlik net voor die politieke party se konferensie plaas en is ‘n groot nuusgeleentheid. Biden is die oudste kandidaat wat nog ooit vir die presidentskap gestaan het en daar is ernstige, legitieme kommer oor sy gesondheid en in besonder sy kognitiewe vermoëns. Wie ook al deur Biden as sy adjunk gekies word, staan dus, sou Biden in November die verkiesing wen, ‘n goeie kans om hom binne die volgende paar jaar op te volg.

Biden het ‘n paar maande gelede homself daartoe verbind om ‘n vrou as sy adjunk aan te wys en daar was die afgelope tyd druk op hom om spesifiek ‘n swart vrou te kies. Tans is sy top drie opsies Senator Kamala Harris van Kalifornië, die voormalige Amerikaanse ambassadeur by die Verenigde Nasies, Susan Rice en Karen Bass, ‘n lid van die Huis van Verteenwoordigers uit Kalifornië. Een van Biden se opponente in die benoemingstryd vroeër vanjaar, Senator Elizabeth Warren, word ook oorweeg. Sy is ook reeds 71-jaar oud.

Die Demokratiese Party het vroeër vanjaar hulle konferensie van Julie na middel Augustus uitgestel en het intussen aangekondig dat dit vanjaar grootliks virtueel sal plaasvind en dat afgevaardigdes deur middel van tegnologie hulle stem vir wie hulle as hulle party se presidentskandidaat wil hê, sal uitbring. Die konferensie vind van 17 tot 20 Augustus in Milwaukee, Wisconsin plaas. Waar dit aanvanklik deur 50 000 mense bygewoon sou word, sal daar nou eerder, weens die COVID-19-pandemie ‘n reeks kleiner byeenkomste regoor Amerika gehou word terwyl Biden en nog sprekers vanuit Milwaukee hulle toesprake sal lewer.

Die Republikeinse Party se konferensie vind van 24 tot 27 Augustus plaas. Dit sou aanvanklik volledig in Charlotte, Noord-Carolina plaasvind, maar weens verskille met die goewerneur van dié deelstaat het President Trump ‘n tyd gelede besluit om sy aanvaardingstoespraak saam met nog toesprake en openbare geleenthede na Jacksonville, Florida te verskuif. Dit is intussen weens die pandemie afgeskaf. Slegs ‘n afgeskaalde weergawe van die konferensie sal nou steeds in Charlotte, Noord-Carolina gehou word.

Die COVID-10-pandemie en die ekonomiese krisis wat dit in die VSA veroorsaak het, oorskadu vanjaar se verkiesingsveldtog. Hoewel Joe Biden tans gemaklik in alle peilings voorloop, kan die verkiesing nog baie onvoorspelbaar wees. Die afwesigheid van groot byeenkomste wat deur duisende ondersteuners bygewoon en orals op televisie uitgesaai word, is sleg vir President Trump. Dit was voorheen een van sy sterkpunte.

Joe Biden is nie net die oudste presidentskandidaat ooit nie, maar ook ‘n kandidaat met ‘n baie lang en wisselvallige rekord in openbare diens. Vanjaar se verkiesingsuitslag sal egter deur deelname en ekonomiese herstel bepaal word. ‘n Lae stempersentasie kan verwag word wat in Trump se guns kan tel, maar indien daar nie wesenlike ekonomiese herstel oor die volgende tien weke duidelik raak nie is sy kanse vir herverkiesing baie skraal.


Lees verder

Current track

Title

Artist