Belastingbetalers is keelvol vir plundertog deur ANC-regering

Deur on

Nuuskommentaar: 27 Mei

Deur: Andrea van Wyk

Maak ’n mens in die oggend enige koerant oop, skakel ’n mens die radio aan of lees ’n mens nuusberigte aanlyn, lê hulle daar: ’n rits opskrifte oor die jongste onthullings van beweerde korrupsie. Elke dag hou ’n nuwe verassing in van wie dié keer geld uit die staatskas gesteel het. Die maniere waarop die ANC-regering se kaders gewone belastingbetalers se geld plunder raak elke keer ’n bietjie meer bisar. Dit raak sowaar soos ’n spannende sepie wat elke keer poog om belastingbetalers elke keer net ’n bietjie meer te skok.

Die jongste opskrifte is dié van dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, se beweerde kennis van korrupsie wat reg onder sy neus plaasgevind het. As ’n mens na Mkhize se agtergrond gaan kyk klink hy soos ’n aangename en opgevoede man. ’n Mediese dokter wat in 1982 sy MBChB-graad aan die Universiteit van Natal verwerf het. Hy is ook die langsdienende provinsiale lid van gesondheid van die Uitvoerende Komitee in die land. ’n Mens sou dink dat ’n mediese dokter met dié tipe politieke ervaring ’n ware aanwins sou wees tydens die COVID-19-pandemie, maar nietemin, hier tref die opskrifte ons: “Mkhize in die spervuur oor dié miljoene.” Geld word na bewering geplunder tydens een van die land se langste noodtoestande.

Daar word berig dat Mkhize se voormalige persoonlike woordvoerder, Tahera Mather, en sy voormalige persoonlike assistent, Radha Harira, noue bande het met die maatskappy Digital Vibes, wat glo ’n kontrak van R150 miljoen beklink het met die departement van gesondheid om “onderhoude in spitstyd op te stel wat by Mkhize se dagboek inpas” en vir die “fasilitering van die lewendige oorskakeling vir alle mediahuise.” Alhoewel Mkhize intussen erken het die kontrak was onregmatig en beweer dat hy persoonlik nie voordeel uit dié korrupsie getrek het nie, is dit steeds ’n skreiende skande. Dis verbasend dat sulke take miljoene rande kos om uit te rig, terwyl dié geld na regte gebruik kan word om die pandemie verder te beveg en om fondse te gee aan mense wat alles verloor het as gevolg van streng en irrasionele inperkingsregulasies.

Die feit dat iemand soos Mkhize, of mense wat voorheen vir hom gewerk het, te midde van die COVID-19-pandemie moontlik steeds by korrupsie betrokke is, is uiters betreurenswaardig. Het politici nog ’n greintjie menslikheid en integriteit oor? As ’n mens na die ander opskrifte kyk, blyk dit nie so nie, want Mkhize se vriende is beslis nie die enigste ANC-kaders wat voordeel trek uit belastingbetalers se hardverdiende geld nie. Dit is ook nie net korrupsie tydens die pandemie nie, maar oor etlike jare van ons land se geskiedenis.

Ander opskrifte wat ’n mens se oog vang is onder meer hoe die Guptas verbind kan word aan meer as R49 miljard se onreëlmatige staatskontrakte – alles belastinggeld wat in ’n ingewikkelde web van korrupsie by gewone landsburgers gesteel is. Dis geld wat gebruik moes word vir broodnodige infrastruktuur, om krag te verskaf, om staatshospitale en klinieke op peil te bring en om gehalte onderwys te verskaf aan miljoene kinders.

Die slegte nuus is dat hierdie opskrifte slegs die punt van ’n reuse-ysberg is. Suid-Afrikaanse belastingbetalers is keelvol vir die ANC-regering wat op ’n nimmereindigende plundertog van staatsgeld is. Die regering sal versigtig moet wees dat gewone landsburgers nie opstaan teen dié korrupsie deur hul hardverdiende geld vir hulself en hul eie gemeenskappe te hou nie – ’n tipe belanstingverset om te sorg dat die regerende party en sy kaders nie verder net vir hulself sorg nie.

Hoop, Glo, Leef in Afrikaans.
Jou ondersteuning versterk Afrikaanse media. Hou jou taal op die lug.
Klik hier.


Current track

Title

Artist