fbpx

Bathabile Dlamini se bedankingsbrief gee ’n eerlike blik op die skeuringe in die ANC

Deur on Jun 19, 2019

Nuuskommentaar: 13 Junie

Die voormalige minister van maatskaplike ontwikkeling, Bathabile Dlamini het geen begeerte om voor te hou dat die ANC verenig is nie.

Die minister, wat berug is vir haar hantering van die maatskaplike toelae krisis, asook haar uitsprake oor ANC lede se smallnyana geraamtes in die kas, het in haar bedankingsbrief gewys dat faksiegevegte in die ANC steeds woed.

Sy is ’n stoere ondersteuner van Nkosazana Dlamini-Zuma, en beweer nou daar is ’n veldtog teen diegene wat in die Dlamini-Zuma kamp is.

Sy beweer ook dat die gades van ANC-hoës voordeel getrek het uit Cash Paymaster Services se aanstelling as diensverskaffer vir die Suid Afrikaanse Agenstkap vir Maatskaplike Ontwikkeling.

Splinternuwe bewerings van korrupsie, wat die tafel dek vir verdere twis en tweespalt in die ANC. Dit te midde van pogings deur die Ramaphosa kamp om die illusie van ’n verenigde ANC te versterk.

Waarom sal sy wil voorgee dat die ANC verenig is? Sy is uitgeskuif uit haar kabinetspos, van haar status gestroop, en nou vir die Nasionale Vervolgings Gesag gegooi vir moontlike vervolging.

Sy beweer sy is die sondebok gemaak vir al die ander ANC kaders se strooptogte.

Nou sleep sy die idee van ’n verenigde ANC saam met haar af.

Ook maar goed so.

’n ANC faksiestryd wat agter die skerms gevoer word, is vir niemand voordelig nie.

Die onlangse uitsprake deur Ace Magashule oor die Reserwebank is maar net deel van hierdie interne ANC-armdruk, en dit was die Suid Afrikaanse ekonomie, en normale Suid Afrikaners wat daaronder gelei het.

Dlamini se bewerings in haar bedankingsbrief is bloot ’n bevestiging van dit wat ons lank reeds weet. Die ANC is vrot en verdeeld. Dit is ook ’n bewys dat die skeidslyne veel dieper lê as bloot anti-korrupsie kaders teenoor Zuma-lojaliste:

Dis ’n stryd tussen die champagne-sosialiste, en die klipharde kommuniste.

Dis ’n stryd tussen slim steel, en onbeskaamd steel.       

Dlamini is nie seker waar sy in hierdie stryd staan nie. Sy weet nie eers of dit Dinsdag of Dingaansdag is nie, maar in haar onkunde het sy die sluier gelig van ’n sogenaamde verenigde ANC.

Die wat versigtig optimisties was en ’n sweempie van hoop gehad het dat Cyril Ramaphosa dalk weer nuwe lewe in die ANC kan blaas, kan nou duidelik sien dat verandering net ’n fantasie gaan bly.

Die staatskapers is dalk uitgeskuif, maar dis bloot die staatskapers wat te gierig was en toe uitgevang is. Die res van die ANC, hulle gades en hulle sakevennote, gaan ongedeerd voort met hul strooptog, soos bevestig deur Dlamini.

Dit maak nie saak watter faksie as wenner uit die stryd om die ANC se siel gaan tree nie, Suid Afrika gaan die grootste verloorder wees.

Dlamini se galbraak het ons net herinner met watter ANC monsters ons hier te doen het; een wat die ekonomie stelselmatig wil vernietig; die ander een wat nie skroom om dit met opset en groot skouspelagtigheid te doen nie.


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Current track

Title

Artist