3 Julie 2023
Die departement van sport, kuns en kultuur sê hy neem met skok kennis van die geskil tussen die Suid-Afrikaanse sokkerbeheerliggaam, FIFA, en die nasionale vrouespan – in die volksmond bekend as Banyana Banyana.
Dit volg nadat die span geweier het om gister teen Botswana te speel. Hulle moet oor minder as drie weke aan die vroue- wêreldbeker in Australië en Nieu Seeland deelneem. Die vriendskaplike wedstryd moes die laaste een wees voor hulle vertrek.
Die Afrika-kampioene was ontevrede oor die gehalte van hulle teenstanders, die toestand van die speelveld in Tsakane – aan die Oos-Rand – sowel as wêreldbeker-bonusse.
SAFA het inderhaas ‘n plaasvervangerspan saamgestel sodat die wedstryd kon voortgaan – wat Botswana met vyf doele teen nul gewen het.
Die span se afrigter, Desiree Ellis was duidelik baie teleurgesteld in haar wêreldbekerspan. Die 23 spelers het tydens rustyd by die stadion opgedaag, maar is nie binne toegelaat nie.