fbpx

As die howe gelooi word

Deur on Okt 21, 2019

Nuuskommentaar: 21 Oktober

Die ouer garde sal wel onthou met hoeveel respek howe se voorsittende beamptes in Suid-Afrika voorheen deur die publiek hanteer is. Nie oor die betrokke landdros of regter noodwendig soveel respek verdien het nie, maar weens die wye magte waaroor voorsittende beamptes beskik het om mense met ’n skuldigbevinding aan minagting van die hof sommer hard te slaan, en selfs ’n draai agter tralies te laat maak. Volgens oorlewering is ’n oorlamse beskuldigde selfs vir minagting gekap omdat hy die vroulike landdros wat sy saak behartig het, as “edeldierbare” aangespreek het.

Na die aanbreek van die nuwe bedeling het dinge egter verander. Omdat die grens tussen aanvaarbaar en onaanvaarbaar nie baie duidelik getrek is nie, veral nie vir die gewone publiek nie, hou die meeste mense egter hul menings vir hulself.

Dit het egter nie so gebly nie, en dikwels wonder ’n mens of die aanvalle wat ’n mens nou oor voorsittende beamptes hoor, selfs van die konstitusionele hof, die produk van dapperheid of onkunde is.

Ja, daar was gevalle wat beslis ’n vrysê of twee geregverdig het. Sekerlik die eerste bekende saak was dié van die Reitz-vier, wat deur die Hooflandddros van Bloemfontein hanteer is. Selfs die trant van die landdros se uitspraak het ’n mens laat wonder oor die man se objektiwiteit. Onder appèl is bevind dat hy die vier selfs vir iets gevonnis het waarvoor hulle nie aangekla is nie. Dit het die landdros nie verhinder om sy mond erg oor dié saak uit te spoel nie.

Nog ’n bekende saak was die leeukampsaak, waar die een beskuldigde aan moord skuldig bevind is, en begin tronkstraf uitdien het. Dit, terwyl die patoloog getuig het die oorledene was reeds dood voor die beskuldigde op die toneel aangekom het.

In die doodskis-saak het die appèlhof in wese die verhoorregter se hand weggeklap en aan die beskuldigdes appèl toegestaan. Net soos in die Coligny-saak moet die appèlhof nog uitspraak lewer – in wese oor of die voorsittende beamptes te ras-bevooroordeeld was.

Maar selfs voor dit het die FW de Klerkstigting ’n aantal sake van die Grondwetlike hof uitgewys waarin die regters gefouteer het. Geen haan het daarna gekraai nie.

Ander gevalle om voorsittende beamptes te looi kom intussen alledaags voor. Min hofsake skep egter so ’n algemene indruk van die inploffing van die regbank, as die kritiek op die grondwetlike hof op die taal-uitspraak  oor die Universiteit van Stellenbosch oor onder meer Afrikaans.

Twee spesifieke kommentare  kan dalk nie gevolgeloos verbygaan nie. Die twee outeurs, prof Wannie Carstens en dr. Leopold Scholtz, is geen twee nulliteite in die openbare lewe nie. Hul onderskeie artikels het onafhanklik van mekaar effektief saam verskyn. Dat Netwerk 24 gewaag het om beide prominent te plaas, spreek ook boekdele. Beide prof Wannie en Leopold, soos hulle familiêr onder hul aanhangers bekend staan, het enorme steun. Wie teen hulle wil optree sou hul vry sê wel tegnies op oortredings neerkom, sal enigiets van dapper tot waarskynlik stok onnosel wees.

Die regspraak is immers veronderstel om harmonie te bewerkstellig, nie ’n heterogene gemeenskap verder te polariseer nie.

En die grondwet moet REG vertolk en toegepas word, nie om ’n uitleg te baseer op die wense van opstokers wat self erken hulle het min erg aan die grondwet of versoening. En hoé ’n uitleg eintlik op presies die teenoorgestelde kan neerkom as wat daar swart of wit staan, en so deur die gewone publiek verstaan word, laat die kop duisel.


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Current track

Title

Artist