Anti-Westerse alliansie word onderskat

Deur on

Nuuskommentaar: 14 November 2023

Deur: Jaco Kleynhans

Die konflik wat tans tussen Israel en Hamas in die Gaza-strook, en tussen Rusland en Oekraïne in die Donbas-streek uitspeel, is ’n simptoom van ’n veel groter globale stryd, een waarin die Weste duidelik die omvang van die samewerking en koördinering van outoritêre state onderskat.

Die voormalige Amerikaanse president Ronald Reagan word sekerlik die beste onthou vir sy leierskap tydens die laaste fase van die Koue Oorlog en die wyse waarop sy buitelandse beleid Amerikaanse invloed globaal uitgebrei, die Sowjetunie verswak en uiteindelik tot die einde van die Koue Oorlog gelei het.

Tydens die Republikeinse Party se nasionale konvensie in 1980 het Reagan gesê dat mense moet weet dat oorlog nie kom wanneer die magte van vryheid sterk is nie, maar wanneer hulle swak is. Hy het verder die volgende gesê: “Dit is dán dat tiranne in die versoeking gestel word.”

Nog een van sy bekende opmerkings wat vandag steeds baie relevant is, is die volgende: “Vryheid is nooit meer as ’n generasie weg van uitwissing nie. Dit word nie in die bloedstroom aan ons kinders oorgedra nie. Daar moet vir vryheid geveg word, dit moet beskerm word en aan volgende generasies oorhandig word.”

Die afgelope twee jaar het groot outoritêre magte toenemend begin verenig in ’n front teen die Weste. In talle Westerse lande word die stryd met China bloot as ’n ekonomiese stryd beskou. Sommige Westerse leiers sien die stryd met ʼn outoritêre land as ’n stryd om politieke en ekonomiese invloed of ’n ideologiese stryd.

In werklikheid is dit ’n beskawingstryd. China, Rusland en Iran wil die Westerse beskawing sodanig verswak dat die Westerse suksesverhaal van die afgelope eeue finaal tot ’n einde kan kom en deur ’n alternatiewe beskawing vervang kan word.

Westerse lande se hantering van die oorlog tussen Rusland en Oekraïne is tekenend van die probleem. In plaas daarvan om jare gelede ’n skikking met Rusland oor invloed in Oos-Europa te bereik en Rusland nader aan die Weste te bring, het Westerse leiers die probleem bly uitstel. Uiteindelik het sanksies teen Rusland die afgelope 21 maande meer skade aan Westerse ekonomieë as aan die Russiese ekonomie berokken. Intussen blyk dit dat Navo stil-stil oor ’n skikking met Rusland begin praat – iets wat reeds twee jaar gelede moes gebeur het.

Die Amerikaanse president, Joe Biden, se buitelandse beleid is ’n totale mislukking. Sy regering het talle sanksies teen Iran laat verval, wat tot ’n skerp styging in Iran se olie-uitvoere gelei het. Daardeur is Iran bemagtig om miljarde dollars te spandeer om Hamas in die Gazastrook, Hisbolla in Libanon en verskeie terreurgroepe in Sirië en Iran te befonds.

Later hierdie week sal Biden met die Chinese president Xi Jinping in San Francisco ontmoet. Biden se minister van finansies het die afspraak voorafgegaan met ’n artikel waarin sy van Amerikaanse pragmatisme in die VSA se verhouding met China praat. Reagan draai sekerlik in sy graf om as hy dit hoor.

Die krisis in die Westerse beskawing word toenemend ontbloot. Westerse leiers misluk daarin om strategiese alliansies wat die Weste haat, teen te werk. In Ronald Reagan se woorde beteken dit net een ding: Tiranne word bemagtig en dit lei tot meer konflik. Die huidige globale toename in konflik is dus geen verrassing nie. Dit is ’n produk van die Weste se onvermoë om die huidige beskawingstryd te verstaan.


Current track

Title

Artist