2 Oktober 2024
Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula sê dat dié party eers volgende week sal reageer op ‘n ultimatum van die DA, om die afgesette burgemeester van die Tshwane-metroraad, Cilliers Brink, weer tot dié amp verkies te kry.
Mbalula het in antwoord op vrae gesê dat daar tans nog onderhandelings aan die gang is.
Volgens Mbalula is daar minstens drie stadsrade se stabiliteit wat in ag geneem moet word voordat die ANC op die DA se eise kan reageer.
Bronne naby aan die ANC het aangedui dat samewerking met die DA tydens die ANC se nasionale werkskomiteevergadering die komende naweek bespreek sal word en dat dit die rede is vir die ANC se stilswye.
Ander bronne het aangedui dat die ANC se nasionale bestuur nie gelukkig is met die Gautengse provinsiale bestuur nie, en dat die optrede van die premier, Panyaza Lesufi en sy span eers die naweek bespreek moet word.