Esmarie Yssel gesels oor aktuele sake wat jou raak
Chardi Kleynhans van Centurion is ’n mamma van ’n elfjarige dogtertjie en gelukkig getroud. Sy tree op as motiveringspreker, omdat sy mense wil help om die beste weergawe van hulleself te wees, ondanks teëspoed. Chardi is al vir 36 jaar swaksiende vanweë Stargardt se siekte, maar die lewe het haar geleer om elke dag met dankbaarheid aan te gryp. Sy het nou ’n dagstukkieboek op die rakke om ander mense te inspireer, en ons gesels regstreeks met haar.
Amerikaanse Voetbal het sy opwagting in Suid-Afrika gemaak. Wel, liefhebbers van dié sportsoort het seker gemaak dit word hier ontwikkel. Die Battlehawks is die amptelike Amerikaanse voetbalspan van Pretoria… en hulle nooi atlete – wat daarvan hou om die veld te domineer – uit om deel te neem aan die proewe vroeg in die nuwe jaar. Ons gesels met die Battlehawks se afrigter en eienaar, Jean-Claud Benade.
Dis vanjaar 500 jaar sedert die heel eerste Protestantse liedereboek, Martin Luther se Agt Liedere-boek, in 1524 verskyn het. Die Hervormde Kerk Sionspoort in Randfontein het ’n Orrelfees op Hervormingsondag aangebied waartydens die 500 jaar van kerkmusiek op ’n besondere wyse gevier is. Dit was ’n sangdiens – onder leiding van die orrelis, Rudi van Wyk… en Rudi het seker gemaak die hartsnare word geroer, want hy’t die koor van die Transoranje-skool vir Dowes by hierdie gewyde geleentheid betrek. Ons gesels regstreeks met Rudi van Wyk.
Daar heers groot kommer oor die uitwerking wat die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys, die Bela-wet, op tuisonderrig kan hê. Strenger regulering en monitering word voorgestel. Ons gesels met Louise Schoonwinkel, die besturende direkteur van Optimi Home and Classroom.
Die boek, Kanker het my lewe gered: ‘n Storie van Hoop, Humor en Lewenslus het leesgehore gaande. Die skrywers, Ronellé Foster – oorspronklik van Malmesbury – en Gerjo Ben van der Merwe van Somerset-Wes – kuier in Pretoria en by ons in die ateljee om oor dié inspirerende stuk skryfwerk te gesels.
Ons gesels oor die nuutgestigte Projek Flamink, in die lewe geroep vir die dames wat by Salvkol in George vrywillige diens gedoen het. Arina Jooste, die voorsitter van die Flaminke, sluit by ons aan.
Jou wortels maak van jou wie jy is… Jy dink dalk nie nou so as jy jonger is nie, maar namate jy ouer word besef jy dis nodig om te weet waar jou familie vandaan kom en hoe die familiestamboom gegroei en vertak het. En wanneer jy kinders kry, dan begin al hierdie dinge vir jou net nog belangriker raak. As jy in jou binneste voel dat dit nou tyd is om te weet waar jou wortels begrawe lê, moet jy môre ’n draai maak by die Erfenis- en familiefees by die Voortrekkermonument, want die Genealogiefees vorm deel daarvan. Ons gesels met Isabel Groesbeek van die FAK se genealogielessenaar.
Demi-Leigh Tebow – ons Mejuffrou Suid-Afrika van 2017 – wat dieselfde jaar grasieus met die Mejuffrou Heelal-kroon weggestap het, het by ons in die ateljee kom kuier om te gesels oor haar boek: ‘n Ewige kroon, Jy is Meer as Wat Jy Glo wat nou by alle vooraanstaande boekwinkels beskikbaar is.
Norman Clack, die stigtersleraar van die Unveiled Church in Krugersdorp het ’n boek, I am My Father’s Child – wat oor vaderskap handel – met skreiende eerlikheid geskryf. Die beskrywing op die agterblad lees soos volg: Hoe oorkom ’n mens fisieke mishandeling? Nog te meer as dit aan die hand is van die persoon wie jy die meeste vertrou? Soveel volwassenes leef saam met die uitwerking van kindermishandeling sonder om agter te kom hoe hulle huidige gedrag deur hulle jeugdige ervarings gevorm is. Ons gesels met Norman.
Eerskomende Vrydag – 6 September – is dit Loslitdag… die grootste bewusmakings- en insamelingsveldtog van die Nasionale Raad van en vir mense met gestremdhede. En vandag het ons ’n baie spesiale gas in die ateljee, die ambassadeur of kampioen van Loslitdag 2024… die afgetrede Suid-Afrikaanse paralimpiese swemmer, Adri Visser. Om jou plakker te koop, volg gerus hierdie skakel: https://casualday.co.za/digital-sticker/
Deon Lamprecht se nuwe boek, Bloedbroers, Na die slagveld van Smokeshell en terug, is op die winkelrakke. In die skrywersnota skryf Deon dat die aanval op die doelwit, genaamd Smokeshell al in meer as een boek deur gerespekteerde kenners en veterane deurgetrap is… veral vanuit ’n militêre-historiese en taktiese oogpunt. Maar hierdie boek is sy nederige poging om die storie van Smokeshell ook aan ’n wyer gehoor en veel jonger generasie te vertel. En ons gesels nou met Deon oor sy vertelling van Smokeshell.
Ons gesels met Dr. Ruhann Steyn, verbonde aan die Noordwes-Universiteit. oor die superbloumaan wat vanaand die hemelruim gaan ophelder.
Die legendariese aktrise, Elma Potgieter, is Saterdag 24 Augustus op die verhoog te sien by die Centurion-teater in die eenvroustuk, Vrou versus Vrou… Van Wespark tot Kolmanskop. Die Wonder van Afrikaans. Dis ’n stuk wat uit 20 gedramatiseerde gedigte bestaan en ván Maria tot Medusa aan Elisabeth Eybers en Corlia Fourie se karakters lewe gee. En om oor dié stuk te gesels ons met Elma.
Hondeliefhebber, hierdie storie is spesiaal vir jou. Daar het ’n Hondemuseum in Keerom-straat in Kaapstad oopgemaak. Die idee is dié van Karel van der Vyver en ons gesels met hom.
Die Pretoriase sanger, Muller Brandt is steeds aan die brand met saamsingliedjies soos Braaibroodjies en die prettige musiekvideos wat daarmee saamgaan. Sy jongste enkelsnit – Esmari – is vrygestel…
’n Voedingsprojek naby Sedgefield het die afgelope vier jaar die hulpbehoewende gemeenskappe in die Wes-Kaap – selfs so ver as die Klein Karoo – met indringervisspesies gevoed.
Dr. André Hattingh van Pediatric Care Africa gaan oor 22 dae 3 500 kilometer met ’n trekker en sleepwa aflê en ses provinsies deurkruis vir sy On-Trac-Tor-liefdadigheidsprojek, vanjaar vir siek kinders en ons boere. Die trekkertog het Sondag in Witrivier in Mpumalanga weggetrek en sal 11 Augustus in Nelspruit ten einde loop.
Die Wetnose-diereskuiling net buite Pretoria het met ’n hartlike projek begin om al die dierekinders wat die spreekwoordelike reënboogbrug oorbrug het op ’n kosbare wyse te onthou…. en daarvoor gaan hulle ’n pragtige reënboogbrug oprig, sodat diegene wat deur die trauma van die dood van ’n dierekind is iets spesiaal aan die brug kan vasheg. Ons gesels oor dié projek met Wetnose se dierekliniekpraktykbestuurder, Ansa Greyvenstein.
Die bekende Suid-Afrikaanse akteur, Flip Theron, is in die ouderdom van 79 oorlede in sy hartstuiste, Hoekwil, in die Wildernis-omgewing in die Wes-Kaap. Hy laat sy vrou, Emily en seun, Hercus agter. Flip het bekendheid verwerf vir sy rolle in televisieprogramme en rolprente soos Nommer Asseblief, Arenda, Vyfster, Hoener met die Rooi Skoene en Fiela se Kind. Ons vier Flip Theron se lewe en loopbaan saam met die rolprentregisseur, Koos Roets.
Dis môre Wêreld-oseanedag en die bewaringsorganisasie, WILDTRUST, vier die see met die bekendstelling van ’n kortfilm, Beyond the Bite, waarin die haaibytoorlewende, Caleb Swanepoel, vertel hoe hy vir die eerste keer, nadat hy sy been in 2015 in ’n haai-aanval verloor het, weer saam met haaie geswem het.
Die gewilde Afrikaanse sanger en liedjieskrywer, Rudi Claase, wat sedert Augustus verlede jaar met sy gesondheid sukkel en tans weer in die hospitaal is, se hart het die oggend van 29 Mei gaan staan. Ná KPR is hy weer bygebring en Rudi sê terwyl hy “dood” was het hy die lig en donker gesien. Die 41-jarige Rudi se vrou, Suzette, gesels met ons.
Karstoeltjies is ononderhandelbaar vir jou kind se veiligheid. Maar om die regte een te kies kan oorweldigend voel, dan praat mens nog nie eers oor die korrekte installering van die stoeltjie in jou motor nie. Ons gesels met René Grundlingh, ’n gesertifiseerde Europese karstoeltjietegnikus en -adviseur en eienaar van The Car Seat Emporium.
Karstoeltjies is ononderhandelbaar vir jou kind se veiligheid. Maar om die regte een te kies kan oorweldigend voel, dan praat mens nog nie eers oor die korrekte installering van die stoeltjie in jou motor nie. Ons gesels met René Grundlingh, ’n gesertifiseerde Europese karstoeltjietegnikus en -adviseur en eienaar van The Car Seat Emporium.
Ons neem kaartkloning onder die loep, omdat dié misdaad aan die toeneem blyk te wees. Ons gesels met Jaco de Jager, die uitvoerende hoof van die Vereniging van Gesertifiseerde Bedrogeksaminator.