fbpx

Afrikaans – gelyke kanse in sy maai

Deur on Okt 16, 2019

Nuuskommentaar: 16 Oktober

Die Konstitusionele Hof het die drukgroep, Gelyke kanse, se aansoek om die Universiteit van Stellenbosch se taalbeleid van sy 2016-beleid tot die 2014-beleid te herstel, van die hand gewys.

Dit volg kort op die omstrede Gautengse LUR vir onderwys, Panyaza Lesufi se galbrakigheid oor die slegs Afrikaanse private onderwysinstelling van Solidariteit na ‘n sooispitseremonie vir ‘n vergrote kampus. So ‘n eentalige instelling sou volgens hom ‘n euwel wees.

Om met Lesufi te argumenteer is so goed as om ‘n wilde renoster te oortuig om vreedsaam en onverdoof agterop ‘n vragmotor wat hom moet vervoer, se laaibak te klim.

Dit raak darem nou meer as hoog tyd dat Lesufi en ander wat privaat instellings se taalregte as ongrondwetlik beskryf deur taaleksklusiwiteit met rasekslusiwiteit gelyk stel, dié speletjie staak. Eintlik handel dit nie net oor opvoedkundige instellings nie – die Vryheidsfront Plus het pas weer, na aanleiding van kritiek op hom oor die Etsebeth-aangeleentheid as sou hy rassisties wees, verwerp.

Oor die waarde van die grondwet, en veral sy rol om versoenend in te werk op die heterogene bevolking, sal nog lank gedebatteer word na hierdie jongste uitspraak. Wat het byvoorbeeld van die grondwetlike bepaling geword dat veral die inheemse tale bevorder moet word? En al sou aangevoer word, en die hof dit so aanvaar, dat Afrikaans nie ‘n inheemse taal is nie, is Engels nog minder.

Nou sit die Wes-Kaap, met ‘n meerderheid Afrikaanssprekende inwoners, in effek met drie Engelstalige universiteite, waarvan een so effentjies erkenning aan Afrikaans behoort te gee, maar volgens die aansoekers nie doen nie. Wat die US wel beslis doen is om Afrikaanssprekendes toenemend soos vreemdelinge in hul eie land laat voel. Voorts kan vertroue in die grondwet erg geknou word.

Hoe is dit moontlik dat daar geen vanselfsprekende diens om Afrikaanse universiteitsopleiding aan 50 persent van die bevolking in die Wes-Kaap, wie se huistaal Afrikaans is te lewer nie?  Die tweede mees verteenwoordigende groep, die Xhosas met 25 persent sprekers kan ook maar taalverwagtinge maan toe blaas – effektief alles word op Engels, met 20 persent moedertaalsprekers afgestem.

In die stadium kan Afrikaanssprekendes wel by satellietkampusse van Akademia op onder meer die Paarl en George inskryf.

In ‘n stadium, soos nog met die Modderklipsaak, het die Konstitusionele Hof beïndruk met sy improvisasievermoë om tot beter oplossings te kom – soms waarskynlik beter as wat die opstellers van die grondwet in die oog gehad het, maar algaande lyk dit of ras ‘n al groter rol speel, en is uitsluitlik swart meerderheidsuitsprake en wit minderheidsuitsprake nie onalgemeen nie. Indien dit wel so sou wees, sou dit uiters gevaarlik wees in ‘n reeds gespanne klimaat waar die ANC apartheid, soos die bevolkingsregistrasiewet wat reeds in 1991 deur die vorige regering geskrap is, in effek lewend te hou sodat teen nie-aangewese groepe, gediskrimineer mag word.

Dis nie net die owerhede wat sake vir Afrikaans moeilik maak nie. Met die Curriebeker-eindstryd  wat die Toyotastadion in Bloemfontein so te sê stampvol. Met die Pro14-wedstryde wat die Cheetahs soos ‘n bom begin het en met wegholtellings geseëvier het was toeskouer so skaars soos hoendertande. Het die feit dat die Cheetahs en die stadion nou effektief all English is, dalk iets daarmee te doen?

Op ‘n positiewe noot. Jan Bosman, hoofsekretaris van die Afrikanerbond vat sake soos volg saam: “Wat jammer is, is dat Engels die enigste wenner is van die taalgesprek in Suid-Afrika. As die geskiedenis eendag ‘n oordeel moet fel, sal dit met ernstige spyt wees dat die maklike uitweg in 2019 gevolg is. Die nuwe taal koloninialisering vind plaas deur ideologie wat in die howe en deur politici bevorder word. Afrikaanssprekendes moet egter nie moed verloor nie. Daar is soveel ander inisiatiewe wat deur Afrikaans ‘n verskil gaan en sal maak. Dit is die positiewe ervaring wat ons elke dag beleef. 

“Die durf en die liefde wat al die gebruikers van hierdie taal het is ontwikkel uit die ryke verskeidenheid van mense wat hierdie hul vaderland noem. Sulke (hof-) uitsprake kan net tydelik die taal se pas  inkort maar dit sal net met meer weerbarstigheid oor grense breek en blom soos wat reeds ervaar en versien word…’n taal sonder grense!”   


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Current track

Title

Artist