fbpx

Afrika ‘n kontinent sonder uitnemende politieke leiers

Deur on Mrt 12, 2020

Nuuskommentaar: 12 Maart

Die Mo Ibrahim Stigting het verlede week aangekondig dat dié organisasie se jaarlikse, internasionaal bekende Ibrahim-toekenning vir uitnemendheid in Afrika-leierskap nie vanjaar toegeken gaan word nie. Dié prestige toekenning, wat ‘n kontantprys van 5 miljoen dollar insluit, is in 2007 opgerig met die doel om staatshoofde in Afrika wat uitnemende werk doen om onder andere demokrasie en ekonomiese ontwikkeling in hulle lande te bevorder, te beloon.

Oor die afgelope agtien jaar is dit vanjaar die sesde keer dat die prys nie toegeken word nie omdat daar volgens die stigting eenvoudig geen leier is wat dit verdien om die prys te ontvang nie. Die Ibrahim-prys word deur ‘n komitee van vooraanstaande voormalige leiers soos Salim Ahmed Salim, Craca Machel en Festus Mogae toegeken wat dit soveel te meer verstommend maak dat hierdie komitee in ‘n kontinent met 54 lande nie een regeringsleier kan vind wat ʼn waardige ontvanger van die Ibrahim-toekenning kan wees nie.

Die komitee maak nie name bekend van Afrikaleiers wat moontlik vir die toekenning oorweeg is nie, maar indien ‘n mens na huidige Afrika-leiers wat billik presteer kyk het die komitee waarskynlik leiers soos Abiy Ahmed van Ethiopië, Paul Kagame van Rwanda, Mokgweetsi Masisi van Botswana, Danny Faure van die Seychelle, Macky Sall  van Senegal en Hage Geingob van Namibië vir die toekenning oorweeg. Nog Afrika-lande wat tans redelik stabiel is, sluit in Suid-Afrika, Ghana, Marokko en Tunisië. Nie een van hierdie lande se leiers het egter in die afgelope jaar enige werklike uitnemende leierskap getoon nie.

Die besluit om vanjaar weer nie die toekenning te maak nie reflekteer sleg op ‘n kontinent wat sedert die einde van kolonialisme ‘n paar dekades gelede van die een krisis na die ander strompel. Terwyl daar grootskaalse onstabiliteit in sekere dele van Afrika soos die Sahel-streek, Somalië, Suid-Soedan en Libië heers, is daar egter ook vandag minder oorlog en chaos in Afrika as twee of drie dekades gelede. Tog sukkel selfs die stabiele lande en streke in Afrika se leiers om die soort van stappe te neem wat nodig is om werklike uitnemendheid te bewys.

Een so ‘n voorbeeld is Ethiopië. Die Eerste Min6ister van Ethiopië, Abiy Ahmed, het verlede jaar die Nobelprys vir Vrede gewen nadat hy ‘n einde aan die uitgerekte geskil met Eritrea wat die lewens van 80 000 soldate uit die twee lande gekos het, kon maak. Terwyl Ethiopië vanjaar meer stabiel en welvarend as ‘n paar jaar gelede is, is daar egter steeds ernstige vrae oor die onderdrukking van minderhede en vryheid van spraak in die land. Na dekades se outoritêre regerings sal daar vanjaar in Augustus ‘n demokratiese verkiesing in dié land wees, maar daar heers steeds ernstige kommer oor sektariese geweld in dié land.

Rwanda is tans een van die ekonomiese uitblinkers in Afrika, skaars 25 jaar na ‘n volksmoord honderde duisende mense se lewens daar gekos het. Die land is stabiel, veilig, skoon en toon uitstekende groei. Tog is demokrasie in die land onder druk, wonder kritiek op die regering gereeld nie geduld nie en regeer President Kagame die land goed, maar met ‘n ystervuis.

Die uitdagings in Afrika is groot. Met ‘n bevolkingsontploffing wat steeds op groot dele van die kontinent voortduur en agterstande in gesondheid, infrastruktuur, onderwys en veral veiligheid wat ‘n meerderheid van Afrika-lande domineer, is werklik uitnemende leierskap nodig. Die hartseer realiteit is dat nie een enkele land in Afrika tans daardie soort van politieke leierskap toon nie.


Laat 'n boodskap
  1. Gazelle Otto   On   Mrt 17, 2020 at 6:29 pm

    Ek stem saam dat werklike leierskap in Afrika nodig is. Soos Pres Dpnald Trump dit nou die dag genoem het dat as die wit mense in Suid-Afrika nie hier was nie was Suid-Afrika nog een van die Afrikastate wat lankal sou verval het en net soos die ander Afrika State sou wees wat nie meer die mas kan opkom nie. Nie een enkele land in Afrika is tans in staat om politieke leierskap te toon nie. Suid-Afrika in my oe het ook nie daardie leiers wat die land kan regeer nie. Kyk wat het die afgelope 26 jaar gebeur met ons land. Alles het net agteruitgegaan en ons land is in skuld gedompel plus nog al die ander probleme wat daartoe gelei tot die land se ondergang. Wie se skuld is dit. Die regering van die dag wat te swak is om hierdie land te lei en nie weet hoe om ‘n land te regeer nie.

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Current track

Title

Artist