Nuuskommentaar: 26 Augustus 2024
Deur: Jaco Kleynhans
’n Vrou se stem mag nie meer in die openbaar in Afganistan gehoor word nie en alle mans moet ’n baard groei. Dit is twee van die nuwe reëls wat verlede week deur die Taliban in Afganistan bekend gemaak is. Meer as 5 000 mans is die afgelope tyd in die openbare sektor in Afganistan afgedank omdat hulle nie ’n baard gegroei het nie. Honderde vroue is in hegtenis geneem en talle selfs gemartel omdat hulle nie die korrekte kleding dra nie. Die nuwe reëls bepaal nou ook dat ’n vrou net na mans aan wie sy verwant is, mag kyk en dat geen vrouestem in enige openbare ruimte gehoor mag word nie.
Dit was onlangs presies drie jaar sedert die Taliban weer volledig beheer oor Afganistan geneem het, en die drakoniese onderdrukking van dié land se burgers en strengste Islamitiese wette maak steeds opslae.
Die Amerikaanse weermag het in ’n chaotiese onttrekking op 14 Augustus 2021 uit Afganistan padgegee nadat die Amerikaners vir twintig jaar lank ’n verbete stryd teen die Taliban en ander terreurgroepe gevoer het. Die oorlog het die Amerikaanse belastingbetaler 300 miljoen dollar per dag gekos, wat dit die duurste oorlog in die Amerikaanse geskiedenis maak.
Meer as 2 400 Amerikaanse soldate, sowel as nog 1 100 soldate van ander Westerse bondgenote soos die Verenigde Koninkryk, Italië en Kanada, is in die oorlog dood. ʼn Totaal van meer as 200 000 mense is tydens die oorlog dood, wat insluit 70 000 soldate van Afganistan se weermag en meer as 50 000 vegters van die Taliban. Byna 50 000 burgerlikes is ook dood.
Terwyl die oorlog vir die VSA rampspoedig was, is die nagevolge vir ’n meerderheid van Afganistan se burgers selfs erger. Die land is vandag byna volledig internasionaal geïsoleer en is ’n falende staat, met ernstige burgerlike onderdrukking en vrese dat die land se grootste uitvoerproduk opgeleide terroriste kan raak.
Die meeste van Afganistan se buurlande het hulle grense met die land gesluit of baie strenger bewaking ingestel uit vrees dat terreurgroepe soos die Islamitiese Staat Khorasan-provinsie (ISKP), wat tans teen die Taliban in Afganistan veg, ook hulle aktiwiteite na buurlande kan uitbrei. Dié groep het juis vroeër vanjaar in verskeie lande verantwoordelikheid vir ernstige terreuraanvalle aanvaar.
Die swak regeringstrukture van die Taliban en hulle onvermoë om die veiligheidsituasie te stabiliseer, skep ’n voortdurende plofbare situasie vir burgerlikes. Daarmee saam is die land se ekonomie baie swak met buitelandse bates wat gevries is, sanksies wat voortduur en humanitêre hulp wat grootliks afgesny is.
In Julie was daar weer by die Verenigde Nasies ’n poging om ’n skikking tussen die internasionale gemeenskap en die Taliban te onderhandel, maar hierdie derde poging het ook misluk. Solank die Taliban enige hervormings en regte vir vroue en minderhede weier, weier die Weste om sanksies op te hef.
Daar is dus min rede om te dink dat die omstandighede in Afganistan binnekort sal verbeter. Intussen kry duisende Afgane dit daagliks reg om Europa te bereik en daar om vlugtelingstatus aansoek te doen. Dit verdiep die bestaande immigrantekrisis in Europa. ’n Omvattende diplomatieke oplossing is nodig, maar tans lyk dit buite bereik en voorspel dit eerder groter risiko’s vir Afganistan, die land se buurlande, maar ook die Weste.