3 Oktober 2022
ActionSA het vanoggend ‘n mediakonferensie gehou oor die gebeure verlede week in die Johannesburgse-metro.
Dit kom nadat Cope se kandidaat, Colleen Makhubele aangewys is as die nuwe speaker. Daarna is ‘n spesiale raadsvergadering Vrydag gehou sodat ‘n mosie van wantroue teen die burgemeester, dr. Mpho Phalatse van die DA aangehoor kon word.
Die ANC-raadslid, Dada Morero is toe aangewys as nuwe burgemeester.
Die Nasionale voorsitter van ActionSA, Michael Beaumont het tydens vanoggend se mediakonferensie gesê dat die DA die gebeure in Johannesburg voor die deur van ander partye wil plaas, om die aandag van hulself weg te neem.
Volgens Beaumont het die DA die posisies van onder meer die burgemeester en die speaker beklee en meen dit is nié goed vir die koalisievenootskap nie.
Bongani Baloyi, wat voorheen by die DA betrokke was het tydens die konferensie gesê dat daar nié meer ‘n koalisie in die metro is nie en dat ActionSA sy nuwe rol as die opposisie in Johannesburg verwelkom.
Die DA het in reaksie op ActionSA se mediakonferensie gesê dat die party besig is met ‘n hofaansoek om die ANC se kaping van Johannesburg ter syde te stel.
Die DA se nasionale woordvoerder, Cilliers Brink sê die raadsvergadering waartydens Phalatse as burgemeester verwyder is was op ‘n onregmatige wyse belê en bestuur.
Brink meen die kiesers van Johannesburg het die ANC uitgestem ten gunste van ‘n beter alternatief, en die DA sal tot die bitter einde baklei om gehoor te gee aan daardie mandaat.
Hy sê intussen het die DA nie tyd om in ‘n bekgeveg met koalisie-vennote betrokke te raak nie.