3 April 2024
Die ActionSA leier Herman Mashaba sê hy sal onder meer vir oud-president Jacob Zuma en die EFF leier Julius Malema binne 100 dae vir beweerde korrupsie ondersoek, sou hy na die verkiesing aan bewind kom.
Mashaba het vandag ‘n lys van 10 individue bekend gemaak wat die party sal ondersoek.
Ander politici op die lys sluit in die EFF se Floyd Shivambu, minister Gwede Mantashe, die ANC se verkiesingshoof Nomvula Mokonyane en die ANC se voormalige sekretaris generaal Ace Magashule.
Sakelui soos Markus Jooste en Gavin Watson sou volgens Mashaba ook op die lys gewees het as hulle nog geleef het.
Mashaba sê die Phala-Phala diefstal sal ook aandag geniet.