9/11-Terreuraanvalle het VSA op onbedoelde wyses verswak

Deur on

Nuuskommentaar: 15 September

Deur: Jaco Kleynhans

Die afgelope naweek was dit presies twee dekades sedert die tragiese terreuraanval op 11 September 2001 in die Verenigde State van Amerika. Terwyl die lewens van die byna 3000 Amerikaners wat op daardie dag dood is, op gepaste wyse herdenk is, word ernstige vrae gevra oor die VSA se gereedheid om toekomstige aanvalle te voorkom, maar ook tot watter mate die gebeure van daardie dag, en die manier waarop die VSA daarop reageer het, die land binnelands en buitelands verswak het.

Toe die Islamitiese terreurgroep Al-Kaïda, onder leiding van Osama Bin Laden, sy aanval op die VSA meer as twintig jaar gelede begin beplan het, was die oogmerke baie eenvoudig. Die groep wou ‘n aanval op die VSA loods waardeur die simboliek van Amerikaanse en Westerse kultuur, mag en invloed ook aangeval moes word. Behalwe dat Amerikaners moes sterf, wou die terroriste ook ‘n punt maak deur verskeie ekonomiese, militêre en politieke simbole, wat hulle as deel van die Westerse imperialisme beskou het, te vernietig. Hulle het net gedeeltelik hierin geslaag.

Die bedoelde gevolge van die terreuraanval is die sterkste gesimboliseer in die vernietiging van die Wêreldhandelsentrum in New York. Die wyse waarop die VSA op die agtervoet betrap is, die terroriste se vermoë om heel gemaklik passasiersvliegtuie te kaap en uiteindelik grootskaalse bloedvergieting te veroorsaak, was die korttermyn suksesverhaal waarmee Al-Kaïda kon spog.

Terwyl die Pentagon vinnig herstel is en die rommel in New York opgeruim en met indrukwekkende nuwe geboue vervang is, kon die VSA ook ander korttermyn suksesse behaal. Die Taliban is enkele maande na die terreuraanval verslaan en Al-Kaïda is uit die meeste plekke in Afganistan verdryf. Leiers van verskeie terreurgroepe soos Osama bin Laden, Abu Musab al-Zarqawi, Anwar al-Awlaki en Abu Bakr al-Baghdadi is deur die VSA om die lewe gebring.

Die VSA en ander Westerse lande het die afgelope twee dekades ook groot vordering gemaak met teen-terreurprogramme. Intelligensie-netwerke, veral in die Midde-Ooste is drasties verbeter en internasionale samewerking in die stryd teen terreur het verbeter.

Die terreuraanvalle twee dekades gelede en die VSA se daaropvolgende oorloë en pogings om demokrasie in Moslemlande te bevorder, het talle langtermyn negatiewe gevolge gehad. Terwyl Westerlinge baie persoonlike vryhede moes prysgee, het Islamitiese terreur nie opgehou nie en het die VSA se aansien in die wêreld heelwat verswak. Terreuraanvalle op Westerse teikens word deesdae deur geradikaliseerde individue, wat moeilik gemonitor kan word, uitgevoer en in talle falende state in Afrika, die Midde-Ooste en Asië neem die aktiwiteite van terreurgroepe tans toe. Die oorname van Afganistan deur die Taliban was ‘n terugslag vir Westerse intelligensiepogings.

Daarmee saam het die gebeure van 11 September 2001 en die VSA se reaksie daarop die land se burgers nog meer verdeel. Die polarisasie in die VSA is besig om in ‘n tydbom te ontwikkel met linkse en regse ekstremiste wat ernstige binnelandse veiligheidsbedreigings inhou. Die vernederende nederlaag in Afganistan, enorme immigrasie na die VSA, ideologiese polarisasie, groeiende gevoelens van vervreemding en onversoenbare standpunte oor hoe die VSA van die toekoms moet lyk, vererger dit selfs. Twintig jaar gelede is die VSA se kwesbaarheid deur Al-Kaïda bewys en hoewel die land steeds kwesbaar is vir Islamitiese terreuraanvalle hou die VSA se binnelandse probleme ook toenemende bedreigings vir dié land se toekoms in.

Stem vir die Aitsa’s

Klik hier


Current track

Title

Artist