23 Februarie 2021
Die polisie in die Wes-Kaap se soektog na ‘n 48-jarige vrou, wat sedert Vrydag vermis word, duur nog voort.
‘n Hommeltuig van die provinsiale nooddienste is ook vroeg vanoggend ingespan om na Colette Eksteen van Gordonsbaai op Tafelberg te soek.
Sanparke se streekswoordvoerder, Lauren Howard-Clayton sê veldwagters van die Tafelberg Nasionale Park help ook om na Eksteen te soek.
Eksteen se rugsak is wel Sondagoggend deur ‘n groep stappers op die Indië-venster-staproete gevind.
Haar selfoon is sedert Vrydag afgeskakel. Die polisiewoordvoerder, kaptein Frederick van Wyk het vroeër vanmiddag gesê dat Eksteen nog nié gevind is nie.