400 blokke kokaïen op Durbanse hawe onderskep

Deur on

5 Desember 2023

In die derde groot vonds by die Durbanse hawe in twee maande het die polisie beslag gelê op kokaïen ter waarde van R151-miljoen op ‘n skip vanaf Brasilië.

Die polisiewoordvoerder brigadier Athlenda Mathe sê ‘n multidissiplinêre span het die vraghouer by ‘n koelopbergingsfasiliteit nagegaan en meer as 400 blokke kokaïen gevind wat in vleishouers verberg was.

In Oktober het dieselfde span beslag gelê op kokaïenbesendings ter waarde van onderskeidelik R150-miljoen en R70-miljoen by dié hawe.

‘n Maand gelede het die polisie beslag gelê op kokaïen met ‘n straatwaarde van R65-miljoen in Gqeberha op ‘n vaartuig wat ook vanaf Brasilië die land binnegekom het.

Mathe sê die nasionale polisiekommissaris, generaal Fannie Masemola het die afgelope week met die polisiehoof van die Brasiliaanse Federale Polisie, Andrei Passos Rodrigues, op die kantlyn van die Interpol AJV in Wene vergader om oor dié probleem te beraadslaag.


Current track

Title

Artist