4 Desember 2023
Nagenoeg 4 000 polisiebeamptes wat sedert 2019 aangekla is van ‘n reeks misdade, werk steeds in die polisie.
Die minister van polisie, Bheki Cele het die syfer bekend gemaak op ‘n skriftelike vraag in die parlement van die DA. Hy sê in hierdie tyd is 5 489 polisiebeamptes in hegtenis geneem, en werk 3 981 van hulle nog binne die polisie
Volgens Cele se antwoord was daar in die laaste vier jaar slegs 430 skuldigbevindings van aangeklaagde polisielede.
Uit die lang lys van misdade waarmee die polisiebeamptes verbind word, is daar moord, poging tot moord, ontvoering, korrupsie, afpersing en roof by ondernemings en huise.
Die DA se woordvoerder oor polisie Okkie Terblanche, sê dit is ’n skandevlek op die regstelsel en die polisie.
Terblanche sê die boodskap hieruit vir gewone wetsgehoorsame burgers is dat die polisie bo die wet verhewe is en geen gevolge hoef te dra vir hul eie misdade nie.