3 Julie 2023
Al 15 insittendes van ‘n minibustaxi is dood, nadat ‘n vragmotor se sleepwa tydens ‘n ongeluk laat gisteraand op die voertuig geval het.
Die ongeluk het omstreeks 23:00 Sondagaand op die N9 in Aberdeen, in die Oos-Kaap plaasgevind, nadat die vragmotor ‘n rondloper dier getref en die bestuurder beheer oor die vragmotor verloor het.
Die woordvoerder van die departement van vervoer in die Oos-Kaap, Unathi Binqose sê die sleepwa het omgeslaan en op die taxi beland wat in daardie stadium langsaan die vragmotor was. Die 15 persone wat oorlede is sluit in nege vroue, vier mans en twee kinders, wat onderskeidelik twee jaar en twee maande oud was.
Die vragmotorbestuurder is nie ernstig beseer nie. Die polisie ondersoek ‘n saak van strafbare manslag.