Werkersdag behoort nie net aan die sosialiste nie

Deur on Apr 30, 2019

Nuuskommentaar: 30 April

More, op 1 Mei word werkersdag wêreldwyd herdenk. Die dag het sy oorsprong in die Hay-mark opstande wat op 4 Mei 1886 in Chicago plaasgevind het. Die opstande het gevolg nadat `n onbekende persoon `n stuk dinamiet na die polisie geslinger het uit weerwraak vir die polisie se aandeel in die dood van agt vakbondlede. Sewe polisiemanne en vier omstanders is dood en talle ander gewond. Die werkers wou sien dat `n agt-ure werksdag in gebruik geneem word. Alhoewel dit sekerlik verstaanbaar is dat daar `n behoefte was dat werksdae tot agt ure beperk word kan daar met reg gevra word of die gewelddadige wyse waarop die werkers te werk gegaan het om hulle sin te kry aanvaarbaar was. 

Ongelukkig word die indruk geskep dat slegs sosialistiese vakbonde `n bydrae tot werkers se welstand lewer. Kyk ons egter na die geskiedenis van Pole sal ons sien dat die vryemark-gesinde vakbond, Solidariteit, onder leiding van Lech Valesa die land van kommunisme bevry het. Valesa het 1983 die Nobelprys vir vrede ontvang vir sy rol in Pole se bevryding van kommunisme. Hy is in die stryd teen kommunisme dikwels geviktimiseer. Hy is verskeie kere in hegtenis geneem, sy gesprekke is afgeluister en weens sy betrokkenheid by onwettige vryemark-gesinde vakbonde is hy keer op keer afgedank. Met een geleentheid is Valesa vir elf maande lank aangehou. Valesa kon nie self sy Nobelprys in ontvangs neem nie omdat hy gevrees het dat hy nie weer in die land toegelaat sou word nie.

`n Belangrike verskil tussen sosialistiese en Christelike vakbonde is die wyse waarop hulle na werkers se belange omsien. Sosialistiese vakbonde verwag van die staat om in te gryp en`n verskil te maak. Christelike vakbonde glo weer `n strategie van selfdoen en selfstandigheid. As ons na plaaslike vakbonde kyk sal ons sien dat vakbonde wat deel van Cosatu vorm `n heel ander benadering het as byvoorbeeld Solidariteit. Daar waar krisisse ervaar word, soos byvoorbeeld `n myn wat gesluit word, sal Cosatu van die regering verwag om in te gryp en die uitgelewerde mynwerks by te staan. Daarteenoor sal Solidariteit kospakkies aan die werkers beskikbaar stel en planne beraam om te verseker dat die gemeenskap se kinders steeds kan skool toe gaan.

Alhoewel Werkersdag `n sosialistiese geskiedenis het kan ons tog van die geleentheid gebruik maak om aan die belangrike rol wat georganiseerde arbeidsbewegings gespeel het om die vrye mark te bevorder, vir werkers se regte op te staan en kommunisme te beveg.


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Lees verder

Current track

Title

Artist