Wat maak Afrikaanse skole so merkwaardig?

Deur on Jul 29, 2019

Nuuskommentaar: 29 Julie

Afrikaanse skole is sinoniem met tradisie, dissipline, uitstekende akademie en sportprestasie. Daar is ’n leerkultuur teenwoordig en ’n strewe na uitnemendheid.

 Onderwysers by hierdie instansies is roepingsgedrewe en hardwerkend met die doel om nie net kennis en kultuur oor te dra nie maar om kinders tot hul volle potensiaal te ontwikkel. Hul geloof en vertroue in die opbou en vooruitgang van die kinders wat deur hulle hande gaan, lê in werklikheid die fondasie wat lei tot die vooruitgang van enige volk en nasie. Die produk wat hulle uiteindelik aan die samelewing lewer is jong landsburgers wat hul plek in die ekonomie kan volstaan en positief kan bydra tot die groei en verdere vooruitgang van die land.

     Dit is natuurlik ’n bedreiging vir die huidige regering wat poog om die onderwysstelsel, soos elke ander entiteit, te sentraliseer en lokaal te wil beheer. Deur propaganda en die implimentering van beheermaatreëls soos die aanlynregistrasieportaal, poog die regering om ouers te laat glo dat hulle nie by magte is om enige insae in die bestuur van skole te kan hê nie. Daar word deurentyd gepoog om beheerliggame te ondermyn en om beleide sonder enige gronde te verander.

     Die teendeel hiervan is egter nader aan die waarheid. Ouers het veel meer mag en beheer as wat die regering hulle laat glo. Elke ouer het die reg om sy/haar kind in die skool van hul keuse te plaas. Ouers, deur middel van die beheerliggaam, het die reg om die taalbeleid, godsdiensbeleid, skoolfonds en selfs die aanstelling van personeel te bepaal. Alhoewel hulle nie by magte is om die kurrikulum te bepaal nie, het hulle wel die reg om beswaar aan te teken teen inhoud wat volgens hulle onvanpas is. Dit is belangrik vir elke ouer om bewus te wees daarvan dat dit deel uitmaak van hul grondwetlike reg. Ouers moet beheer hê, hulle moet dit behou en moet deurentyd poog om meer beheer te bekom.

     Dit klink dalk soos ’n onmoontlike taak wanneer nuusprogramme en mediaplatforms getuig van staatsamptenare wat openlik rassisties is en konstant negatiewe en afbrekende aanmerkings teenoor Afrikaanse skole en Afrikaans as onderrig medium en taal maak.

 Hierdie arrogante propaganda is misleidend en weerspieël nie die werklike situasie van dit wat tans in Afrikaanse skole plaasvind nie. Die meerderheid Afrikaanse skole is reeds tot ’n mate geprivatiseer. Dit gebeur omdat ouers bereid is om skoolfonds te betaal waarmee addisionele onderwysers en personeel aangestel kan word en fasiliteite verbeter, onderhou en opgerig kan word. Als met die doel om ontwikkeling en vooruitgang te kan verseker, sodoende aan elke kind ‘n geleentheid te bied waar hulself hul eie talente kan ontdek in ’n omgewing waar dit vrylik ontgin en vaardighede ontwikkel kan word.

     Dit is natuurlik waarom Afrikaanse skole so merkwaardig is en deurentyd op alle gebiede presteer: die kinders, wat daar hul opvoeding ontvang is die middelpunt. Die fokus is daarop om hulle toe te rus met waardes, dissipline en belangrike vaardighede wat nodig sal wees, wanneer hulle die skool verlaat.

 Dit is om ‘n eie roepingsgedrewendheid by hulle aan te wakker en by hulle die wil te laat ontstaan om self verantwoordelikheid te aanvaar en aan te sluit by hierdie kultuur van aanhou bou.


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Lees verder

Current track

Title

Artist