Waarom Wakanda fiksie gaan bly

Deur on Jun 27, 2019

Nuuskommentaar: 27 Junie

President Cyril Ramaphosa se idee van ’n trots Suid Afrikaanse Wakanda gaan op verskeie vlakke misluk.

Eerstens is hy verkeerd as hy dink ons het nuwe stede nodig. Ons het reeds genoeg stede wat nie die nodige dienste aan sy inwoners kan lewer nie. ’n Nuwe stad, met wolkekrabbers, skole, universiteite en hospitale is nie die oplossing vir die agteruitgang wat ons tans beleef in ons stede nie. Dit is ‘n maklike manier om die realiteite in ons huidige stede te ignoreer. So ‘n stad sal net verdere kopseer en agteruitgang teweeg bring. Ramaphosa moet eerder fokus op die instandhouding en opgradering van die infrastruktuur wat ons reeds het.

Tweedens gaan sy Suid Afrikaanse weergawe van die fiktiewe Wakanda nooit realiseer indien die regering enigsins ’n rol speel in die oprigting van die stad nie.

Jy hoef nie ver te soek om voorbeelde te vind van regeringshand wat lugkastele kelder nie.

Sou ons nie ‘n wêreldklas kragopwekkingseenheid gekry het nie? Dit was die regering se belofte, nou sit ons met Eskom se Medupi-kragstasie, wat weens staatsinmenging nie optimaal presteer nie. En die gevolg? Beurtkrag.

Sou ons nie alreeds ‘n wêreldklas spoornetwerk gehad het nie? Nou sit ons met Prasa treine wat te hoog is vir ons spore.

Sou ons lisensiekantore, binnelandse sake kantore en openbare uitsaaier nie lankal gedigitaliseer word nie? Ja, maar weens die staat, sit Suid Afirkaners steeds ure-aaneen in rye buite die kantore, en word ons breeband spektrum steeds gekaap deur ‘n uitsaaier wat nie kan oorskakel na moderne tegnologie nie.

In Suid Afrikaanse konteks is die werklikheid dat so ’n stad nie gaan ontstaan weens die regering se insette nie, maar eerder weens desperaatheid vanuit die gemeenskap, wat agterwee gelaat is in die reeds bestaande stede.

Gemeenskappe vind slim oplossings vir simpel probleme wat geskep word deur die staat. Weens ‘n gebrekkige staatsdiens het gemeenskappe hulself georganiseer om slim te wees met kragopwekking, slim te wees met sy sekuriteit, en slim te wees met die oprigting van nuwe universiteite.

Die vierde industriële revolusie gaan die inisiatiewe vanuit die gemeenskap net verder versterk, en gaan die regeringsmonster net nog meer oorbodig maak.

Derdens moet Ramaphosa besef dat jy nie slim stede kan bou sonder slim mense nie. Indien Ramaphosa sy droom van ’n nuwe slim-stad vir Suid Afrika wil verwesenlik, sal hy dringend moet begin om die uittog van slim, gekwalifiseerde Suid Afrikaners stop te sit.

Hy sal moet wegdoen met drakoniese beleid wat innovasie kniehalter. Weg met regstellende aksie, wat voorwaardes stel aan maatskappye wat wil help om die ekonomie te bou. Basta met kwotas by universiteite, wat talentvolle studente weerhou van geleenthede om te studeer in ’n rigting van hulle keuse. Skrap die minimumloon wetgewing, en hersien die buitensporige belastingjuk op maatskappye se skouers.

Indien Ramaphosa sy slim-stad wil hê, sal hy die brawe ding moet doen en zones moet skep waar vryemark beginsels heers. Hy sal sy eie ANC party se beleid moet opsy skuif, en sy comrades moet verraai. Dit is sekerlik een van die grootste redes waarom sy Wakanda net fiksie sal bly.


Laat 'n boodskap
  1. John van Eck   On   Jun 29, 2019 at 3:23 pm

    Ek kon tot nou PretoriaFM beluister in Holland – nuwe computer – hoe kan ek live inskakel afrikaans is ook mijn taal !

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Current track

Title

Artist