Waarom die IVP se nuwe leierskap dopgehou moet word

Deur on Aug 28, 2019

Pretoria FM Nuuskommentaar – 28 Augustus

Velenkosini Hlabisa is op Sondag 25 Augustus as die nuwe leier van die Inkatha Vryheidsparty, die IVP, aangewys.  Dit kom na die uittrede van Mangsothu Buthelezi, wat sedert die party se stigting in 1975 die leier was.

Vir Suid-Afrika is die rigting wat die nuwe IVP leierskap inneem belangriker as wat dalk aanvanklik besef word, of wat op die oppervlak geglo word.  Die rede hiervoor is dat die IVP homself tradisioneel sterk uitgespreek het ten gunste van groter gemeenskapsregte, en meer vryhede vir plaaslike gemeenskappe om besluite te maak.  Suid-Afrika is tans in die vreemde posisie waar ʼn uiters heterogene groep mense van ʼn sentrale punt af bestuur word, deur ʼn regering wat toenemend mag op homself sentreer.  Nie eens lande wat etnies homogeen is, soos Pole, kon growwe sosialisme laat werk nie, en daarom moet die vraag gevra word waarom die ANC en die huidige regering hoopvol is dat dit in Suid-Afrika sal werk.

Met hul klem daarop dat verskillende kultuurgroepe basiese kulturele vryhede moet hê, en selfs nog voor dit, met hul erkenning dat Suid-Afrika inderwaarheid uit ʼn klomp groepe bestaan wat natuurlik verskeie ooreenkomste het, maar inherent van mekaar verskil, kan die IVP ʼn klomp vryheid losmaak vir hulle wat glo dat gemeenskappe moet besluit oor dinge soos watter taal as onderrigmedium gebruik moet word, om maar net een voorbeeld te noem.

Sou die IVP so ʼn standpunt van meer kulturele vryheid inneem en nastreef, sal dit druk op die Suid-Afrikaanse regering plaas, juis omdat die druk vanuit een van hul vestingsprovinsies, KwaZulu-Natal kom.  Sodanige druk op die Suid-Afrikaanse regering, tesame met die druk wat reeds uit Afrikaanse geledere geopper word, kan nie anders nie as om erkenning van Suid-Afrika se realiteit op voetsoolvlak te gee.

Om die blote rede van hierdie moontlike fokuspunte en ideologiese posisies, behoort die leierskap van die IVP streng dopgehou te word, veral in die opbou tot die 2021 munisipale verkiesings.  ʼn Addisionele rede sou ook die druk op die regerende party wees.  Statistiek sal aantoon dat ʼn groot hoeveelheid ANC steun onder die leiding van President Zuma verloor is in die Noordwes-Provinisie, Limpopo, en Gauteng, hoofsaaklik aan die EFF.  Die ANC het hierdie skuiwe nie so erg gevoel nie, omdat ANC steun onder Zulu-stemmers drasties in die Zuma-era toegeneem het.  Met die IVP wat leierskap en steun konsolideer, kan KwaZulu-Natal as groot en sterk ANC vesting kwyn, wat die pad na veelpartyregering, en die moontlikhede wat so ʼn stelsel bied, sal open.


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Current track

Title

Artist