Vrees en fopnuus

Deur on Sep 6, 2019

Nuuskommentaar: 6 September

“Mense op die groepe, maak seker jy maak jou spaartenk vol met brandstof, maak seker jy koop genoeg kos vir drie weke. My bronne het aan my gesê dat al die lorriedrywers van môre af gaan staak.”

Die tipe stem en teksboodskappe het die afgelope twee weke weer soos ‘n veldbrand versprei.

Die sogenaamde bronne word nooit genoem nie, die gebied waar die protes of onluste gaan plaasvind ook nie. Geen datums word verskaf nie. Dus, ‘n generiese boodskap met een doel voor oë; om vrees in die publiek in te jaag.

In Nederland gebruik hulle ‘n mooi term vir die inligting-smouse. Solder-terroriste. Mense wat in hulle solder agter ‘n rekenaar sit en deurgaans op die deel knoppie kliek.

Dit is veel makliker om die boodskap aan te stuur, indien daar ‘n moontlikheid is dat dit waar is, as om die inhoud van die boodskap te verifieer.

Teen die tyd wat die polisie, of die betrokke vakbond of organisasie die gerugte in die kiem smoor is die boodskap al duisende kere gedeel, en het dit reeds sy doel gedien.

Dit gebeur ook met beweerde gevalle van rassisme. Dink maar aan juffrou Elana Barkhuizen wat haar pos kwyt was, omdat ‘n heksejag op Twitter die regering genoop het om op te tree, sonder dat die nodige bewyse eers ingesamel is.

Soveel vrees, paniek, onsekerheid en hartseer word onnodig veroorsaak omdat sensasie en skindernuus bo die waarheid en sekerheid verkies word.

Hiermee word daar nie gesê dat daar nie ‘n mate van waarheid steek in van die boodskappe wat versprei word nie, maar daardie waarheid is gewoonlik ‘n halwe waarheid.

Ja, vragmotorbestuurders het gestaak die week, hulle is bekommerd oor geweld teenoor hulle kollegas, maar dit beteken nie die lewering van kos en ander produkte het van die een dag op die volgende gestop nie.

Ja, taxi-eienaars in die Pretoria sakekern het strate versper en winkels is geplunder, maar die hele stad het nie tot stilstand gekom nie.

Daar is stertjies aan die berigte gelas om reaksie van die publiek te ontlok.

Dit is dus bitter belangrik om die boodskappe te verifieer.

Gaan lees verskeie koerante en nuusplatforms. Luister na jou gemeenskapstasies. Skakel in by buurtwag groepe wat versigtig te werk gaan met inligting.

Hou steeds jou ore op die grond, maar vat die boodskappe wat versprei word maar met ‘n knippie sout.

Gaan die nuusbronne na. Sommige webtuistes lyk soos die ware Jakob, maar is spesifiek opgestel om fopnuus te versprei.

Lees met valkoë deur verklarings wat aangestuur word. Gaan die besonderhede na van die persone wat aangehaal word. Soms is die hele verklaring vals.

Gebruik die wonder van tegnologie en die internet om vas te stel of foto’s of videos dalk gemanipuleer is. In sommige gevalle sal jy jou antwoord reeds op die eerste bladsy van Google vind.

Ja, dit gaan jou ‘n ekstra paar minute neem om die inligting te verifieer voor jy dit aanstuur, maar maak eerder seker jy stuur nie fopnuus aan nie.


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Current track

Title

Artist