Trump se kanse op herverkiesing raak beter

Deur on Jun 10, 2019

Nuuskommentaar: 10 Junie

Gaan President Donald Trump volgende jaar op 3 November tot ‘n tweede termyn as president van die VSA verkies word? Hoewel November 2020 vir die meeste van ons vêr in die toekoms kan lyk, is die verkiesingsveldtog in die VSA reeds aan die gang.

Die Demokratiese Party se benoemingsproses vir ‘n presidentskandidaat is volstoom aan die gang. Intussen lyk dit toenemend of die Demokrate wat die Huis van Verteenwoordigers beheer van plan is om President Trump in ‘n staat van beskuldiging te plaas. Dit is veral die meer linkse lede van die party wat druk op die speaker van die huis, Nancy Pelosi, plaas om die formele proses hiervoor in werking te stel. Dit is ‘n baie riskante stap wat maklik in die Demokratiese Party se gesig kan ontplof.  

Daar is heelwat redes wat aangevoer kan word oor waarom President Trump volgende jaar se verkiesing gaan verloor. Peiling na peiling wys dat minder as 50% van Amerikaners tevrede is met sy werksprestasie. Tweedens is Trump se voortdurende uitbarstings op sosiale media en talle vae bewerings oor ongerymdhede in sy regering alles redes wat deur Demokrate aangevoer word oor waarom hy nie herkies gaan word nie. Daar is egter meer redes om te glo dat hy wel herkies sal word.

President Donald Trump se onlangse besoek aan Brittanje en Frankryk was ‘n sukses en Amerikaners was oor die algemeen beïndruk met sy optrede tydens ontmoetings met lede van die Britse Koningshuis, sowel as met Britse politici, insluitende die uittredende Eerste Minister Theresa May. Trump se toespraak by die D-dagherderking in Normandië in Frankryk is baie goed ontvang en het Amerika se belangrike rol in die suksesvolle militêre operasie van 6 Junie 1944 sterk beklemtoon.

Die Westerse wêreld word die afgelope paar jaar deur politieke ontstuimighede gekenmerk. Die Brexit-krisis in Brittanje en die bedanking van David Cameron en nou ook Theresa May as Eerste Ministers dompel die Britte toenemend in onsekere vaarwaters. In Duitsland word dit by die dag duideliker dat die Merkel-era ‘n einde bereik en in Frankryk is die goue seun, President Emmanuel Macron, deesdae ‘n baie ongewilde staatshoof. In Italië is die astrante, Euroskeptiese Lega-party nou die grootste en in Hongarye word Viktor Orban deur die kiesers vir sy dwarsheid teen Brussel se politieke inmenging beloon. In Kanada is Justin Trudeau se politieke doppie waarskynlik reeds geklink.

Terwyl Donald Trump oor die afgelope twee jaar op verskeie wyses gevestigde politieke idees en stelsels deurmekaar gekrap het, is Amerika egter vandag onder sy leiding ‘n bron van Westerse stabiliteit. Die land se ekonomie presteer uitstekend, Amerika is by geen groot oorloë betrokke nie en hoewel Trump die een handelsoorlog na die ander voer lyk dit selfs of daar ook ‘n gelukkige einde hieraan op die horison is. Die ooreenkoms wat Amerika verlede week met Mexiko bereik het, is ‘n belangrike prestasie en ‘n nuwe handelsooreenkoms met China sal waarskynlik binnekort bereik word. Baie dinge kan voor November 2020 gebeur. Amerika kan byvoorbeeld nuwe ekonomiese probleme ontwikkel of in ‘n rampspoedige oorlog met Iran betrokke raak, maar tans lyk dit asof daar genoeg rede is om te glo dat Trump tot ‘n tweede termyn verkies gaan word


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Current track

Title

Artist