Suid-Afrika moet onder sakeredding geplaas word

Deur on Jul 26, 2019

Nuuskommentaar: 26 Julie

Dis tyd dat Suid Afrika onder sakeredding geplaas word.

Daar is bykans geen staatsdepartement, staatsmaatskappy of regeringsinstelling wat nie in omstredenheid gedompel is nie. Wanbestuur, korrupsie en bedrog vier hoogty, en die oplossings wat voorgestel word, verander nie veel aan die benarde situasie nie.

Suid Afrikaners het hierdie week weer gehoor dat hy gaan pa staan vir die finansieele reddingsboeie wat oor die volgende paar maande aan sukkelende staatsmaatskappye betaal gaan word.

Eskom ontvang meer as 50 miljard rand; die SAUK 3,2 miljard. Dan word daar ook nog uitbetalings voorsien aan Denel en die SAL.

Die minister van finansies Tito Mboweni erken onbeskaamd dat die belastingbetaler aan die korste ent gaan trek, en dat die regering volgende jaar meer geld gaan moet leen om sy uitgawes te dek.

Te midde van die finansieële verknorsing, baklei die ANC met die ANC, soos kat en hond.

Die EFF, Jacob Zuma en Busisiwe Mkhwebane skree ook nog van die kantlyn af om die faksiegevegte in die ANC verder aan te vuur.

‘n Mens sou verwag dat senior regeringslui en politici, soos president Cyril Ramaphosa, minister Pravin Gordhan en die ANC se sekretaris generaal Ace Magashule, die leiding sou neem om berigte oor ANC faksiegevegte in die kiem te smoor, maar daardie boot het reeds gevaar.

So paar maande gelede was daar nog ‘n poging om ‘n verenigde ANC voor te hou. Deesdae word daar nie eers meer ‘n poging aangewend nie.

Te midde van die ANC se binnegevegte sou dit voordelig wees vir Suid Afrika indien die regering se werk uitgekontrakteer kon word, of die land onder sakeredding geplaas kon word.

Skrander besigheidslui wat omsigtig te werk gaan sal moet besluite neem oor begrotings en projekte, en hulle sal vorendag kom met regrukstrategiee wat nie gegrond is in ideologie nie, maar eerder op praktiese, werkbare besigheidsbeginsels.

Dit sal die ANC tyd gee om eers sy binne-gevegte uit te klaar, sonder dat die land daaronder hoef te ly.

Dit is egter wensdenkery. Geen politieke party sal vrywillig sy mag oorhandig aan ‘n ander party nie. Die ANC het steeds geen reg om die land saam af te trek terwyl hy sy eie inploffing bewerkstellig nie.

So wat staan jou nou te doen?

Die demokratiese stelsel maak voorsiening vir verkiesings, waartydens stemgeregtigdes ‘n ander party kan kies om die land te regeer. Die stelsel het ons oor die afgelope 25 jaar misluk, en dalk net meer bygedra tot die situasie waarin ons onsself nou bevind.

Verkiesings gaan dus nie help nie. Daar moet eerder gekyk word na “selfaangestelde sakeredders”.

Stel jou eie maatreels in plek om jou minder afhanklik te maak van die regering. Maak jouself bestand teen die Nuwe Dageraad. Steun organisasies wat poog om mag van die eenheidstaat af te rokkel. Hou jou oor op die grond, lees tussen die lyne, en wees versigtig met jou geld en beleggings wanneer daar beloftes van hernuwing aan jou gemaak word.


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Lees verder

Current track

Title

Artist