Sosiale Media wys die ANC se ware skeure

Deur on Jul 15, 2019

Nuuskommentaar: 15 Julie

Min gebeurtenisse is oor die afgelope twee-en-ʼn-half dekades so vormend tot Suid-Afrika se politiek en ekonomie soos die vyfjaarlikse ANC-kongres.  Tydens hierdie kongresse word die ANC se nuwe leierskapstrukture aangewys, wat tot dus ver ook ons land se volgende president vir ons uitgewys het.  Die ANC se kongres van 2017 was nie anders nie, die twee persone wat as President en Adjunk-President aangewys is, het hulself kort daarna ook in hierdie posisies van die nasionale regering bevind.  Wat egter van belang is, is die duidelike breuk in die ANC, wat amper daagliks duideliker vir die man op straat word.

In leketerme word daar verwys na die Zuma-faksie en die Ramaphosa-faksie om hierdie breuk aan te toon, maar dit is nie alewig so eenvoudig nie.  Ons kan nie maar net sê dat die Zuma-faksie bande met die Gupta-familie gehad het, en dat die Ramaphosa-faksie absoluut foutloos in die hele staatskapingproses was nie, ten eerste omdat meneer Ramaphosa self in daardie stadium die adjunkpresident was, en verder omdat hy self geld van die berugte Bosasa-maatskappy ontvang het, in die vorm van ʼn skenking vir sy Presidensiële veldtog binne in sy party.

Die afgelope week se Sosiale Media klipgooiery tussen die Gautengse Premier David Makhura en die Minister van Finansies, Tito Mboweni, het ʼn skeur van ʼn baie meer komplekse aard getoon – die regerende party blyk op grondvlak nie eenstemmigheid te hê oor sy ekonomiese beleid nie.  Is die ANC ʼn Sosialistiese party wat hom primêr op herverdeling van rykdom toespits, en dus meer en meer belasting wil hê, meer en meer mag wil hê, en toenemend inmeng by die ekonomie, of is die ANC ʼn Neo-liberale party, soos wat EFF-leier Julius Malema hulle noem, wat persoonlike vryhede vir landsburgers wil laat vermeerder?  As Premier Makhura reg is, dus dat e-tollhekke op Gauteng se paaie, die rede vir hulle aanlynskermutseling, verwyder moet word, en dat belastingbetalers elders die uitgawes verbonde aan snelweë opknap, moet opdok, dan is die ANC steeds op ʼn pad van Sosialistiese herverdeling, waar rykes betaal en armes ontvang.  So ʼn beskouing is natuurlik begrond op die idee van historiese skuld, en sosiale geregtigheid – gonswoorde aan die politieke linkerkant.  Sou Minister Mboweni eerder as korrek beskou word, dan neig die ANC tot ʼn besluit dat die verbruiker moet betaal, irrelevant sy agtergrond of huidige omstandigheid.  Dit sou die individu beklemtoon, en die individu wat bevoordeel is, verantwoordelik hou vir die voordeel wat ontvang is, in hierdie geval ʼn wêreldklas snelweg.

Die besluit oor wat die ANC in wese is, sal, ten minste vir die volgende vier jaar, in ʼn groot mate bepaal wie en wat Suid-Afrika is en word.  Hierdie skeur binne in die ANC mag dalk net groter en groter word, namate die druk van die EFF aan die linkerkant hom na sosialisme druk, en druk van die Internasionale gemeenskap hom na liberalisme druk.  Hoe die ANC homself posisioneer in iets so eenvoudig soos e-tolhekke, gaan uiters relevant vir ons onmiddellike toekoms wees.


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Current track

Title

Artist