Sommige Afrikaanssprekendes sien bloed-ROOI

Deur on Aug 7, 2019

Nuuskommentaar: 6 Augustus

Mag die Wes-Kaapse Bloeddiens mildelik vrugte gepluk kry, of genoeg bloed getap kry, weens sy besluit om steeds Afrikaans te gebruik.

Dit volg na ‘n herrie losgebars het nadat die Suid-Afrikaanse bloeddiens wat die diens aan die ander 8 provinsies lewer,  laat weet het sy vorms wat skenkers moet invul elke keer wanneer bloed geskenk word,  voortaan net in Engels beskikbaar gestel gaan word.

Maroela Media het die besluit en motiverings daarvoor gister in ‘n nuuskommentaar onder die loep geneem, en veral kleingeld van die Bloeddiens se sogenaamde grondwetlike redes gemaak.

Die nasionale bloeddiens het hom in hoofsaak beroep op dwaalstellings wat gereeld gehoor word, soos dat dit onprakties is om al elf amptelike tale te gebruik, en dat slegs Engels daarom gebruik gaan word. Die eerste denkfout is dat die grondwet ook bepaal dat inheemse tale, wat tog Afrikaans insluit, spesiaal bevorder moet word. Engels, die ware koloniale taal, is dus hiervan uitgesluit, maar word in weerwil van die grondwetlike bepaling, voorgetrek.

Die tweede is dat die grondwet bepaal dat elke provinsie minstens twee amptelike tale moet hê. Almal gebruik egter minstens drie. Om vir drie in plaas van die veronderstelde twee voorsiening tye maak is nie so buitensporig onmoontlik nie.

Om die volledige grondwetlike implikasies onder die loep te neem gaan ‘n volledige verhandeling behels. Voldoende om te sê dat die disfunksionele Pansat in die dae toe nog ietsie daar aangegaan het, bevind het dat die staat die grootste oortreder van die grondwet se taalbepalings is. Dit is later ook so in die hooggeregshof bevind.

Nog meer onrusbarend is, is dat van die rugbyunies nou ook all English is, selfs in provinsies waar Engels nie ‘n tweede of derde taal is nie, maar ‘n vreemde taal. Plakkate, Padpredikante en ander geskrifte wat dan slegs in Engels opgestel word, is dikwels deurspek met spel- en taalfoute.

Kwalik ‘n haan kraai daarna.

Maar oor die Bloeddiens se voorneme was daar ‘n behoorlike ontploffing onder Afrikaanse bloedskenkers. Vele het aangevoer as hul taal dan nie welkom is nie, dan is hul bloed ook nie goed genoeg nie. Die Wes-Kaapse bloeddiens se reaksie so gou was broodnodig, en dalk ook nie toevallig nie.

Planne om skenkings te boikot is in hierdie geval nie die beste nie. Dit is ‘n nooddiens, en boikotte kan daartoe lei dat ook heel onskuldige babas en kinders kan sterf. Op die oomblik dui die Nasionale Bloeddiens se webwerf aan dat dit 5 dae se bloedvoorraad het. Dit kan egter skielik baie verander.

Die saak kan uit beginsel ook nie daargelaat word nie. Met beide Pansat en die Kommissie vir die Bevordering en die Beskerming van Taal- Godsdiens en Kultuurregte in wisselende toestande van afgestorwenheid, is dit waarskynlik sinneloos om enige van hierdie instansies te nader. Afrikaanse kultuurorganisasies wat regstreeks met die Bloeddiens skakel, sal moontlik beter resultate behaal as om met boikotaksies en soortgelyk te antwoord.

Maar daar kan ook nie toegelaat word dat die Bloeddiens ‘n Lesufi op die mense trek nie.


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Lees verder

Current track

Title

Artist