Skuldlose aanspreeklikheid

Deur on Jun 6, 2019

Nuuskommentaar: 6 Junie

Twee weke gelede, op 24 Mei, het die Britse premier, Theresa May aangekondig dat sy bedank as eerste-minister en leier van die Britse Konserwatiewe Party.

Haar bedanking het nie as ‘n skok gekom nie. Dit was reeds ‘n tyd lank te wagte, veral nadat sy reeds twee keer ‘n bloutjie geloop het in die Britse Laerhuis in haar pogings om Brittanje by wyse van ‘n ordelike ooreenkoms uit die Europese Unie te laat tree en sodoende die minste moontlike ontwrigting vir die ekonomie te veroorsaak.

May se bedanking kom ten spyte van die feit dat sy in alle opsigte eintlik relatief suksesvol was – behalwe vir die Brexit-plan.

Die Verenigde Koninkryk het die afgelope boekjaar afgesluit met die laagste begrotingstekort in 17 jaar. Die werkloosheidskoers is op sy laagste in 48 jaar. Maar May kon nie die onmoontlike vermag om die steun van genoeg LP’s uit die geledere van Tories, Arbeiders, Liberaal-Demokrate, Skotte en Noord-Iere, te monster om haar ordelike Brexit-plan in werking te stel nie.

In daardie opsig is Theresa May ‘n tragiese held.

‘n Goeie mens met ‘n goeie ideaal en ‘n goeie baanrekord wat op die betrokke dag nie die sukses kon wys wat haar leierskap sou verskans nie en vrywillig opsy moes staan.

Mens kan dit opsom as ‘n kultuur van skuldlose aanspreeklikheid, waarin die betrokke leier die eerbare ding doen om opsy te staan en ander geleentheid gee.

Op ‘n manier is dit juis grootsheid. Die grootsheid van ‘n leier om hom of haarself ondergeskik te stel aan die groter belang – selfs waar daar geen skuld teenwoordig is nie.

Die Afrikaner digter, filosoof en skrywer, NP van Wyk Louw het in sy drama, Germanicus die verhaal vertel van ‘n eerbare Romeinse “kroonprins”, Germanicus wat voor ‘n keuse gestel word om rein te bly en te sterf, of om ‘n kompromie met boosheid aan te gaan, Romeinse keiser te word en in die proses sy eie lewe te red. Germanicus kies egter edelheid en reinheid en sterf. ‘n Tragiese held inderdaad.

Op dieselfde dag as Theresa May in London, het Carel Boshoff in Orania uitgetree as die leier van die Orania Beweging. Nie weens enige skuld aan sy kant nie, maar omdat slegte publisiteit en stories wat uit verband geruk is, dit nodig gemaak het. Dis skuldlose aanspreeklikheid. So wat op ‘n makro-skaal in London gebeur het, gebeur op ‘n mikro-skaal in Orania.

In die Suid-Afrikaanse politieke toneel is daar wel enkele Germanicus-karakters.

Oud-president Thabo Mbeki het in 2005 gekies om die plundering wat ons voorland sou raak as Jacob Zuma president word, te probeer keer en Zuma afgedank as Adjunk-president van die land, hangende die korrupsie-ondersoeke teen hom. Die plan het misluk en twee jaar later het die ANC Zuma as president aangewys.

In 2012 het adjunk-president Kgalema Mothlante nie meer kans gesien vir die plundering van die Zuma bewind nie en vir Zuma uitgedaag om die presidentskap van die ANC. Dit het misluk en hy is verneder.

In 2017 moes Cyril Ramaphosa van David Mabuza se steun gebruik maak om president van die ANC te word. Daar was sprake dat hy dieselfde as Mbeki wou doen en Mabuza wou weglaat, maar is deur die politieke magte binne die ANC verhoed om dit te doen.

Die politieke magte in Suid-Afrika neig tans teen die Germanicus-leiers. Leiers aanvaar geen aanspreeklikheid nie. Nie vir skuldige optrede of onskuldige optrede nie.

Daarom groei Brittanje as staat (en Orania as ‘n gemeenskap) terwyl Suid-Afrika se welvaart en ekonomie steeds krimp.


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Current track

Title

Artist