Ramaphosa moet oplossings vind vir breinkwyn

Deur on Mei 23, 2019

Nuuskommentaar: 23 Mei

Volgens PPS se indeks vir gegradueerde beroepslui staar Suid-Afrika `n grootskaalse breinkwyn in die gesig. Volgens die peiling wil bykans die helfte van gegradueerde beroepslui emigreer. Altesame 42% van gegradueerde beroepslui wat aan die peiling deelgeneem het, sê hulle kry nie in Suid-Afrika werk wat by hul vaardighede pas nie en gaan daarom oorsee werk soek. PPS se indeks vir gegradueerde beroepslui is uit ’n peiling onder 5 837 PPS-lede saamgestel. PPS is ’n versekeraar vir beroepslui, onder wie ingenieurs, medici en rekenmeesters.

Hierdie beroepslui se voorneme is nie net ydele dreigemente nie maar kan `n werklikheid word aangesien hulle oor die finansiële vermoë het en gekwalifiseerd is om te emigreer. Sowat 43% van die respondente is erg bekommerd oor die heersende politieke kwessies, terwyl 27% ook oor die stand van die ekonomie bekommerd is. Opsommend kan daar uit die peiling afgelei word dat 84% van prokureurs bekommerd is oor hoe die regering se staatsbestuur hul bedryf oor die volgende 12 maande kan beïnvloed en 72% van dokters dink nie die beoogde Nasionale Gesondheidsversekering sal die volhoubaarheid van hul beroep verbeter nie, en 73% meen die meerderheid van beroepsmense in dié veld is naby uitbranding.

Dit is verder kommerwekkend dat 78% van ingenieurs van mening is dat daar beduidend minder geleenthede in ingenieursweseprojekte beskikbaar is en 76% voel dat die staat se gebrek aan ’n geïntegreerde projekbestuursprogram het hulle beduidend beïnvloed. Die gevolg van wetgewing soos regstellende aksie het reeds daartoe gelei dat `n beduidende getal ingenieurs uit hulle beroepe gedryf is. Indien ingenieurs verder sou besluit om die land te verlaat kan die vaardigheidstekort, waaronder Suid-Afrika reeds gebuk gaan, selfs verder vererger.

In die stadium word daar wyd bespiegel hoe Ramaphosa se kabinet gaan lyk en of hy daarin gaan slaag om al die faksies binne die ANC bymekaar te hou. Dit is dalk tyd dat die president en die regerende party besef dat kleinlike binnegevegte nie swaarder kan weeg as `n dreigende vaardigheidstekort met dokters, tandartse en ingenieurs wat dreig om die land te verlaat nie. President Ramaphosa het tydens sy eerste toespraak in die sesde parlement gesê dat hy `n president vir almal gaan wees – ook diegene wat nie vir hom gestem het nie. Miskien is dit tyd dat Ramaphosa besef dat almal `n bydrae tot die land kan lewer – ook diegene wat nie vir hom gestem het nie. En terwyl president Ramaphosa kop krap oor hoe Suid-Afrika se ekonomiese groei kan verbeter moet hy dalk wonder of rasbehepte wetgewing wat vaardige mense uit die werkplek hou nie een van die faktore is wat ekonomiese groei kniehalter nie.


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Lees verder

Current track

Title

Artist