Oor Groepsvoordeel is beide kante verkeerd

Deur on Mei 22, 2019

Nuuskommentaar: 22 Mei

Een van die gonswoorde wat in die 21ste eeu, veral in die Weste gewild geword het, is die idee van interseksionaliteit.  Hierdie metode van sosiale verdeling hou vol dat ʼn persoon, afhangend van jou ras, geslag, en ander agtergrondmerkers, in ‘n sekere mate benadeel is.  Hierdie redenasie sou dan, as dit verpraktiseer word, daarop uitloop dat ʼn mens vas glo dat alle swart vroue inherent meer benadeel is as alle wit mans – gewoon gegrond op historiese redes.  Hierdie benadering tot die mensdom het aan ons bitter vrugte soos die idee van “wit bevoorregting” gegee.  Hulle wat glo dat wit bevoorregting bestaan, voer aan dat alle witmense, suiwer op grond van hul ras, bevoordeel is, en dat alle ander mense, gegrond op die feit dat hulle nie wit is nie, benadeel is.

So ʼn benadering sou ons dan daartoe lei om te glo dat die kinders van President Cyril Ramaphosa, of van multimiljoenêr Patrice Motsepe, op grond van hul ras inherent benadeel is, en dat ʼn wit kind, wat in ʼn plakkerskamp woon en nie lopende water het nie, inherent bevoordeel is.  Hierdie benadering tot die mensdom maak natuurlik nie sin nie, en is deur neutrale wetenskaplikes afgewys, juis omdat dit gegrond is op ʼn growwe en bewysbaar verkeerde veralgemening.

Toe die eertydse burgermeester van Kaapstad, Helen Zille, dus ʼn wyle terug ʼn twiet oor swart bevoorregting geplaas het, deur na grootskaalse staatskaping en korrupsie as swart bevoordeling te gebruik, het baie mense aan die ander kant van die politieke spektrum ongelukkig in hierdie selfde slaggat van veralgemening geval.  Dat sekere staatsamptenare misdade gepleeg het waarvoor hulle moontlik nooit vervolg sal word nie, dit is so.  Dat sommige van hierdie staatsamptenare swart is, dit is so, maar om nou die growwe veralgemening te aanvaar dat ʼn hele groep bevoordeel is, gegrond op die dade van party, sou erkenning daarvan wees dat hierdie denkwyse opsigself aanvaarbaar is.

So interessant as wat dit was om dop te hou hoe groot name in die publieke sfeer mekaar oor en weer van allerhande dinge beskuldig is dikwels opwindend, maar die nugterdenkende persoon moet nie daardeur meegevoer word nie.

Net omdat een persoon deur ʼn vorige of huidige bestel bevoordeel is, beteken nie dat daardie voordeel oor sy of haar hele ras geprojekteer kan word nie.  Laat ons eerder elke persoon op die meriete van hul eie saak beoordeel.  Die redelike persoon verwerp die idee van wit bevoorregting, want so ʼn persoon besef dat daar witmense is wat werklik nog nooit die idee van enige bevoorregting geken het nie.  So ʼn persoon moet egter in hul eie denkwyse konsekwent wees.  As gevolg van hierdie konsekwentheid behoort die nugterdenkende persoon enigiemand wat ʼn growwe veralgemening maak se veralgemening te weeg, en die waarheid daarvan, irrelevant van die bron, sorgvuldig te toets.


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Lees verder

Current track

Title

Artist